Bible Society of South Africa

In pas met God: God se vriend - 22 Januarie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

23So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is 'n vriend van God genoem.

JAKOBUS 2:23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jakobus se woorde klink soos die einde van ‘n feëverhaal, behalwe dat dit nie ‘n feëverhaal is nie.

Om met God die pad te loop, was vir Abraham ‘n realiteit, ‘n genadepad elke dag. Soos ons, was hy nie volmaak nie, maar God is en Hy het hom geseën. Abraham het, soms met wyfelende treë, geleer om in geloof met God te loop en deur sy tekortkominge en beproewinge te werk. Abraham het geleer dat geloof slegs bestaan as daar aksie is en dit was wanneer hy in moeilike tye die onbekende met volle vertroue in God ingegaan het dat “God sy geloof vir hom as regverdiging gereken [het], en hy ‘n vriend van God genoem [is].” (Jakobus 2:23, 2020-vertaling)

Abram was 75 jaar oud to God in Ur aan hom verskyn en vir hom gesê het: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.” (Genesis 12:1) In die daaropvolgende jare het God baie keer en op verskillende maniere aan hom verskyn en so is God se seën uitgebrei.

God het beloof om Abram ‘n groot nasie te maak, hom en ander deur hom, te seën, en die land Kanäan aan sy afstammelinge te gee. Dit is te verstane dat die belangrikste belofte aan hom en die onvrugbare Sarai was dat sy geboorte sou gee aan Abram se eie seun en erfgenaam.

Soos hulle ouer geword het, het hulle ouderdom ‘n struikelblok geword. Toe dit gelyk het asof God stil geword het, en dit wat hulle die hoogste geag het afwesig was, het hulle hulle eie plan beraam om ‘n erfgenaam voort te bring – in stede van op God te vertrou om sy belofte gestand te doen. Dit was nie die eerste keer dat Abram ‘n verkeerde keuse gemaak het deur sy eie menslike begrip te gebruik eerder as om op God te vertrou nie. God het hom egter in staat gestel om deur dit meer volwasse in sy geloof te word, selfs deur die verwekking van Ismael wat vir Abram die grootste leerkurwe ooit was.

“Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Leef voor My, en wees onberispelik!” (Genesis 17:1, 2020-vertaling)

Wat hierop gevolg het was toewyding. God het die verbond van die besnydenis met Abram gesluit en Hy het hom en sy vrou hernoem na Abraham en Sara. Isak is die volgende jaar gebore, toe Sara 90 jaar oud was en Abraham ‘n 100 jaar oud – in God se volmaakte tyd.

Teen die tyd wat God Abraham beveel het om Isak te offer, het Abraham onwrikbaar in God geglo en hy het dapper gehoorsaam – sy geloof is deur sy aksies vervolmaak.

God ken ons en ons foute. Hy sien hoe ons elke dag struikel oor klein dingetjies wat toelaat dat trots, angs, ongeloof, gierigheid en swak oordeel ons lewens ontwrig en ons geloof uitdaag. In sulke tye voel ons dalk alleen, en tog is sy liefde en sorg altyd daar wanneer Hy ons toelaat om ons pad te vind en as oorwinnaars en met ‘n dieper geloof uit die stryd te tree, meer in pas met Hom.

Gebed: “Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie.” (Jeremia 32:17) Skenk aan my ware geloof wat deur my dade om U te eer, duidelik sal wys. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS