Bible Society of South Africa

Hoe vaar jy? - 27 Februarie 2024

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

7Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.

EFESIËRS 6:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek hoor ’n storie van ’n dorp waar die openbare telefone reg by die ingang van die apteek was. Die apteker kon dus nie help om van die mense se gesprekke te hoor nie.

Op ’n dag bel ’n jongman en die gesprek verloop soos volg: “Hallo, Meneer. Ek bel om te hoor of u iemand vir ’n tuin benodig? O, u het al iemand. Is u tevrede met hom? Dankie, Meneer, ek wou net hoor.”

Die apteker was simpatiek toe hy sê: “Ek is jammer dat jy nie die werkie gekry het nie, jongman.”

Dié het geglimlag en gesê: “Nee, ek het die werk. Ek wou net hoor hoe ek vaar.”

In Efesiërs 6:7 lees ons: “Julle moet julle werk graag doen. Dit moet vir julle wees soos wanneer julle vir die Here self werk, nie soos wanneer julle vir mense werk nie.”

Ons kan maklik kla of gefrustreerd raak in die werkplek as dit voel asof dinge nie verloop soos ons dit sou wou hê nie. Die vraag is: Werk ons nog asof ons vir God werk of vir mense? Dit is nodig om onsself te herinner dat Hy alles sien en dat dit ook Hy is wat ’n bevordering kan bewerkstellig wanneer ons dit die minste verwag.

Gebed: Vader God, dankie dat ek kan weet dat U alles sien wat ek doen. Help my asseblief om nie lui te wees nie, maar om wat ek doen tot die beste van my vermoëns te doen. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS