Bible Society of South Africa

God se almag oor tyd en plek - 30 Augustus 2024

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

HANDELINGE 17

26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie,

HANDELINGE 17:26-27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die laaste verse in ons reeks oor tyd en plek kom uit die apostel Paulus se toespraak in die Areopagus in Athene waar hy ‘n groep Griekse filosowe toegespreek het. In sy boodskap verwys Paulus na die aard van God. Hy beklemtoon God se almag oor die skepping en sy begeerte dat die mens Hom sal soek en ken.

Hierdie verse herinner ons aan ‘n diepgaande waarheid: God is almagtig en heers oor elke aspek van ons lewens, insluitende waar en wanneer ons leef. Dit is nie per toeval dat jy op hierdie spesfieke tyd in die geskiedenis leef, of jou vandag op ‘n spesifieke plek bevind nie. Volgens Paulus het God elkeen van ons met ‘n spesifieke doel in ons unieke omstandighede geplaas – om Hom te soek en te vind.

In ons vinnige wêreld is dit maklik om die belangrikheid van die plek en tyd waarin ons leef, mis te kyk. Ons wonder miskien waarom ons ons op ‘n spesifieke plek bevind of hoekom sekere gebeurtenisse gebeur wanneer hulle gebeur. Hierdie verse verseker ons egter dat God in beheer is. Hy bepaal hoe lank ons sal bestaan en waar ons sal woon. Ons lewens is nie lukraak nie, maar deel van ‘n goddelike plan.

Dink na oor die feit dat God jou vir ‘n rede geplaas het waar jy nou is. Jou huidige omstandighede, hoe uitdagend of verwarrend dit ook al mag wees, is deel van God se groter plan. Vra jouself af hoe jy God in jou huidige situasie op ‘n dieper manier kan soek. Is daar geleenthede om nader na Hom te groei, om deur gebed na Hom uit te reik of sy teenwoordigheid op nuwe maniere te ontdek? Vertrou dat in elke seisoen en op elke plek God aan die werk is om jou nader aan Hom te bring.

Gebed: Almagtige God, dankie dat U my volgens u plan in hierdie spesifieke tyd en plek geplaas het. Help my om u doel vir my lewe te ontdek en U met my hele hart te soek. Gee dat ek in alle omstandighede na U sal uitreik en dat ek troos sal vind in die wete dat U altyd naby is. Lei my op die pad en help my om in u volmaakte tydsberekening en goddelike plasing te vertrou. In Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS