Bible Society of South Africa

God red - 19 September 2024

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

DEUTERONOMIUM 20

4Die Here julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg, om julle die oorwinning te laat behaal.’

DEUTERONOMIUM 20:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

God het nog altyd sy volk van gevaar, uitwissing en vernietiging gered. In teenstelling, het die duiwel nog altyd sy visier gestel op die vernietiging van die Jode en die daaropvolgende geslagte wat God se belofte aan die mensdom moes vervul.

Die boek Ester, waar God se Naam nie eers een keer genoem word nie, is vol gebeure wat van sy bestaan getuig. ‘n Definitiewe uitwissing van die Jode wat deur Haman georganiseer is, word deur ‘n Joodse vrou in die gedaante van koningin Ester, gedwarsboom. Sy slaag daarin om tot haar man se hart deur te dring.

Toe die aartsvader Jakob swaargekry het as gevolg van ‘n hongersnood in Kanaän, het God sy familie gered. Deur genade bevind hulle hulle in die Gosenstreek waar alles volop was. God het Josef, een van my persoonlike helde, vooruitgestuur en hom in ‘n posisie geplaas om Jakob en sy familie veilig, gevoed en gevestig te hou.

Ek verwonder my oor ‘n God wat nooit sy kinders aan hulle lot oorlaat nie. Beide die verhale hier bo getuig van ‘n God wat met ‘n feitlik onsigbare hand agter die skerms aan die werk is.

In die boek “Unmasking Esther” illustreer Edith Sher die interessante ooreenkomste tussen hierdie twee instrumente van verlossing soos volg: “In both accounts the setting is a foreign land: Egypt in the case of Joseph and Persia in the case of Esther. In both instances a Jew in disadvantaged circumstances is positioned by God in a key role. In both cases they are thrust unwillingly into prominence: Joseph is sold into slavery in Egypt, while Esther is taken to the king’s palace. Joseph is imprisoned because Potiphar’s wife had found him so attractive. Esther is confined in the royal harem because she is so attractive.”

Sy sê verder dat kyk ‘n mens daarna in suiwer menslike terme het Ester min gehad om op trots te wees. Sy het haar mense verloën, die Torah laat vaar en die proses wat haar uiteindelik met ‘n heiden laat trou het, gevolg. Nietemin, skryf Sher, het God haar uitgekies om sy instrument van verlossing te word. Soos die geval met Josef, was ‘n voorbereidingstyd noodsaaklik om haar vir God se doel te vorm.

Ongelooflik of hoe? En daar is baie meer gevalle in die Bybel. Die vroue wat in Jesus se geslagsregister voorkom, is almal sulke gevalle – nie juis engeltjies nie, maar niemand kan hulle geloof bevraagteken nie.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U ons ondanks al ons foute gebruik. Dankie dat U onvolmaakte instrumente vir u goddelike doel gebruik. Ons prys u Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS