Bible Society of South Africa

Een van hart en siel - 13 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

HANDELINGE 2

44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.

HANDELINGE 2:44AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om aan mekaar verbonde te wees het vir die gemeente beteken om met alles voluit te gaan, selfs tot by die terrein waar die meeste mense begin rem aandraai. As jy mos aan ‘n man se beursie vat, is jy gewoonlik op gevaarlike terrein. Kyk maar in Handelinge 5 na Ananias en sy vrou Saffira wat so stilletjies van die geld wat hulle vir ‘n stuk grond gekry het, teruggehou het. Dit was egter die uitsondering. Uit alles wat ons hier lees, is dit duidelik dat die gemeente ‘n besondere band met mekaar gehad het.

Ek het al baie gewonder presies hoe die gemeente dit alles gereël het en prakties uitgevoer gekry het. In Handelinge 6 word vertel dat die gemeente sewe manne vol wysheid en vervul met die Heilige Gees gehad het om die daaglikse bestuur te behartig. In Handelinge 4:32 kry ons nog ‘n beter insig waarom dit met die gemeente goed gegaan het: “Die menigte wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en niemand het na sy eie besittings as sy eie verwys nie, maar hulle het dit alles gemeenskaplik besit.” Wat hier uitstaan is die eensgesindheid, die omgee vir mekaar.

Ek hou nogal van wat prof JL de Villiers in sy kommentaar oor Handeling hieroor sê: “Die lede van die gemeente het volle beskikkingsreg oor hulle eiendom behou en het vrywilliglik daarvan verkoop, om die opbrengs na die apostels te bring vir uitdeling aan die behoeftiges.” Almal kon tog nie hulle huise verkoop het nie en jy moes sekerlik darem ‘n bed behou het om op te slaap en ‘n bord en beker van jou eie. Die belangrikste was nie wat en hoeveel elkeen besit het nie, maar dat hulle uit liefde en eensgesindheid gesorg het dat niemand van die gemeente honger ly of koud slaap nie.

Dit is hierdie een wees van hart en siel wat sekerlik ‘n belangrike rol gespeel het by die uitdra van die evangelie na die uithoeke van die aarde en steeds vandag ‘n integrale deel van die kerk behoort uit te maak.

Gebed: Hemelse Vader, maak my bewus van die nood van medegelowiges, maar ook alle ander mense wat swaar kry. Amen

 

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS