Bible Society of South Africa

Die seëning van ’n toe deur - 15 Februarie 2024

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

12Nou kyk ons nog

in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld,

maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.

Nou ken ek net gedeeltelik,

maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.

1 KORINTIËRS 13:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek loop vanoggend ’n vrou raak wie se seun ’n maand gelede getrou het. Sy het iemand gehad wat spesiaal vir haar ’n persblou rok vir die troue gemaak het. Toe ek haar vra hoe die troue was, vertel sy hoe teleurgestel sy aanvanklik was toe die rok ’n week voor die troue glad nie reg gesit het nie. Sy was genoodsaak om inderhaas ’n rok by ’n vriendin te leen.

“Maar dit was eintlik ’n seëning,” vertel sy. “Toe die bruid se ma aangestap kom, het ek amper gestik. Sy het nie net presies dieselfde persblou kleur rok gedra nie. Die patroon van haar rok was presies dieselfde as wat myne sou wees. God het my beskerm dat ons nie soos ’n tweeling op die funksie sou lyk nie!”

Wanneer iets nie uitwerk soos waarop ons gehoop het nie, is dit maklik om kwaad te word en selfs vir God te blameer. Dít terwyl Hy dalk besig is om ons te help. In 1 Korintiërs 13:12 lees ons: “In hierdie lewe sien ons alles baie dof, ons sien dinge soos in ‘n dowwe spieël. Maar eendag sal ons alles helder sien … Nou weet ek nog nie alles nie. Maar eendag sal ek alles weet, soos God nou alles van my weet.”

God het vir ons planne vir voorspoed. Hy is ’n goeie God. Wanneer dinge dof voel en ons nie verstaan hoekom een deur toeslaan nie kan ons met ’n geruste hart ons geloof en vertroue in Hom plaas. Hy ken die toekoms. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U nooit verander nie. Help my om in “dowwe” tye my geloof en vertroue op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS