Bible Society of South Africa

Daar woed 'n geestelike oorlog - 6 September 2024

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 10

3Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. 4Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies 5en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

2 KORINTIËRS 10:3-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit is duidelik, of hoe, dat daar ‘n geestelike oorlog aan die gang is waarby ons almal op een of ander manier betrokke is en nie van kan ontsnap nie. Daar is een vyand en een ware God, alhoewel drie-enig van aard. Die oorlog is tussen hulle en hulle hemelse leërs. By verstek het ons met die sondeval (Genesis 3) kollaterale skade vir Satan geword.

Engele is onsterflike wesens en ‘n derde van hulle is saam met die duiwel uit die hemel verban. Hulle straf is ‘n ewige verdoemenis in ‘n see van vuur. Daar word gesê dat ellende lief is vir geselskap, en dit is baie waar van die duiwel en sy metgeselle.

Hulle hou daarvan om God se kinders – wonderbaarlik na sy beeld gemaak soos Psalm 139 dit beskryf – vir hulle verwerplike donker kant te werf. Hulle kom om mense te verlei, die beeld van God in hierdie wêreld te vernietig, die lig van God te verdoof en sy kinders te korrupteer.

Die bose magte doen dit deur die waarheid van die Woord van God te verdraai of net eenvoudig die waarheid tot so ‘n mate af te water dat dit nie langer kragtig is nie. Die duiwel is so vol van homself en hy laat die mensdom ook hierdie aanmatigende houding inneem. Sonder nederigheid kan ons nie ons behoefte aan God en verlossing raaksien nie, en word dan uiteindelik op ‘n dwaalspoor gelei.

Daar is egter ‘n manier om die vyand met al sy valshede en vaardigheid om te mislei, te oorwin: ‘n manier om die een wat so graag vals waarhede verkondig, te weerlê. Die een wat homself voordoen as ‘n engel van die lig, het reeds sy plek verloor en hy sal geen moeite ontsien om jou van joune te beroof nie. Het Jesus nie gesê dat die duiwel net gekom het om te steel en slag en uit te roei nie? (Johannes 10:10)

In Johannes 8:31-32 sê Jesus die volgende: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

Vir ons om van Satan se strikke ontslae te raak, waarlik vry te wees, is dit nodig om op Jesus te fokus en aan dit wat sy Woord ons leer, vas te hou. Met ander woorde ons moet doen wat Hy ons leer. As ons op God vertrou sal ons vrede ontvang. (Jesaja 26:3)

Vrede vir julle!

Gebed: Here, ons loof en prys U vir die waarheid van u Woord. Dankie dat dit ons help om beide sonde en die strikke van Satan te oorkom. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS