Bible Society of South Africa

Amen - 31 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

Die boodskap aan Laodisea

14Skrywe aan die leraar van die gemeente in Laodisea:

So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het:

DIE OPENBARING 3:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die woord Amen, is ‘n Hebreeuse woord wat “dit is so” beteken. Vir ‘n lang tyd het ek net daaraan gedink as die woord wat ons aan die einde van ‘n gebed gebruik. Wanneer ons aan die einde van ‘n gebed Amen sê, is dit egter meer as net die einde. Ons bevestig dat ons werklik elke woord in ons gebed of lofprysing bedoel – Amen, so is dit.

Die Bybel leer ons ook dat wanneer ons Amen sê, bevestig ons ons waardering vir die Woord van God. “Esra het hoër gestaan as die hele gemeente en het die boek voor almal se oë oopgemaak. Toe hy dit oopmaak, het die hele gemeente opgestaan. Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.” (Nehemia 8:6-7) Ons glo in die Woord van God – ja, dit is so, Amen.

Deur Amen te sê bevestig ons dat ons met God se besluite saamstem. Koning Dawid het eerstehands ondervind wat dit beteken om te kan sê: Ek glo in die vergewing van sonde … en dan die vrede van God te ervaar. Alhoewel hy nie seker was oor hoe die volk sy besluit sou aanvaar nie, was hy in sy hart oortuig dat sy seun, Salomo, hom moes opvolg. Hy vertel sy besluit aan die leiers van die volk en hulle reageer soos volg: “Benaja seun van Jojada sê toe: “So is dit, [met ander woorde, Amen] en mag die Here u God ook so sê. Mag Hy by Salomo wees soos Hy by u was. Mag Hy die heerskappy van Salomo nog groter maak as koning Dawid s’n.” (1 Konings 1:36-37)

Die afgelope maand het ons iets geleer oor dit wat ons glo. Kom ons sê met oortuiging: Ek glo … Amen, dit is so.

“Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus!” (Openbaring 22:20)

Gebed: Here, dankie dat ons kan glo in die Amen, die geloofwaardige en ware getuie deur wie God alles geskep het. Dankie dat ons met verwagting kan uitsien na die dag dat U weer sal kom. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS