Abraham se hoop - 14 Augustus 2020

Deur Xanthe Hancox

Abraham het nog gehoop selfs toe daar klaarblyklik geen rede tot hoop meer was nie. God het hom ‘n seun beloof van wie daar ‘n groot nasie sou voortspruit. Hulle sou so baie wees dat, soos die sterre in die hemel, dit nie moontlik sou wees om hulle te tel nie. (Genesis 15:4-5)

Maar die tyd het verbygegaan en Abraham het oud geword. Sy vrou, Sara, was ook oud en steeds het God nie sy belofte aan Abraham gestand gedoen nie. Sara het selfs gelag toe God sy belofte aan Abraham herhaal het.

Ten spyte hiervan, het Abraham gekies om God te glo en op Hom gewag om sy belofte uit te voer. Toe Abraham 100 jaar oud was het Sara geboorte gegee aan hulle seun, Isak. (Genesis 21:1-5) Die geboorte van Isak het vir Abraham en Sara groot blydskap gebring, maar dit was slegs die begin van God se belofte aan hom. Die meeste van die dinge wat God aan Abraham beloof het, sou nie gedurende sy leeftyd gebeur nie (Hebreërs 11:13). Abraham was daarvan bewus (Genesis 15:13-16), maar nogtans het hy geglo en God vertrou.

Ons kan in ons omstandighede glo, of ons kan in God glo.

Abraham en Sara se jare van teleurstelling omdat hulle nie ‘n kind kon hê nie, is beëindig toe die vreugde van die koms van hulle seun, Isak, hulle harte gevul het. God het werklik blydskap en hoop gebring, die begin van die vervulling van sy belofte om hulle ‘n groot nasie te maak (Genesis 12:2).

Gebed: Vader, soms is ons hoop so vergesog dat ons sukkel om u beloftes te glo. Vergewe my dat ek soms twyfel dat dit vir U moontlik is om alles wat U beloof het, te doen. Amen