Bible Society of South Africa

Aan mekaar verbonde - 10 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

HANDELINGE 2

42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

HANDELINGE 2:42AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek was al in eredienste van baie verskillende kerkgenootskappe waar die voorganger heel aan die begin die lidmate vra om mekaar te groet. Soms gaan dit maar so ‘n bietjie stywerig en ander kere amper uitbundig. Ek self het dit aan die begin bietjie vreemd gevind om al die vreemde mense te moet groet. Aan die ander kant was dit in my tuisgemeente waar ek baie mense ken ook bra vreemd om hulle Sondag na Sondag te moet groet.

Op ‘n dag besef ek dat dit regtig lekker is om dikwels nuwe gelowiges te ontmoet, maar veral is dit ook lekker om al die bekendes by my tuisgemeente raak te loop. Soos julle seker al teen die tyd kon aflei, kyk ons vandag (en ook môre) na die tweede ding wat vir daardie eerste klein gemeente belangrik was.

Interessant vertaal die 1983/1992- en die 2020-vertalings van die Afrikaanse Bybel albei die woord “koinonia” as onderlinge verbondenheid of verbondenheid met mekaar, terwyl die 1933/1953-vertaling van gemeenskap praat en in die 2007-vertaling lees ons ”… hulle was altyd saam.”

Al hierdie woorde probeer uitdrukking gee aan een betekenis wat van uiterste belang is vir die kerk. Sonder hierdie verbondenheid van lidmate kon die kerk in die eerste jare, maar ook nou tweeduisend jaar later, nie bly bestaan nie. Die omgekeerde is egter ook waar. Sonder die saamwees en verbondenheid met ander gelowiges sal ek ook nie die volle vreugde van geloof kan beleef nie.

Ek het al gehoor mense sê hulle wil nie saam met ‘n klomp skynheiliges in die kerk of gemeente wees nie. Die probleem is dat ‘n mens daardeur jouself die vreugde ontsê om saam met die lidmate wat nie skynheilig is nie die gemeenskap van gelowiges te beoefen. Hierdie verbondenheid is verder ook om in die gees deel te wees van die liggaam van Christus in die wêreld.

Gebed: Ons dank U uit die diepte van ons harte dat daar medegelowiges rondom ons is aan wie ons deur u liefde verbind is. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS