Wag op Hom alleen - 4 Junie 2020

Deur Xanthe Hancox

Dawid het ‘n seisoen van wanhoop beleef toe hy Psalm 62 gedig het. Hy het baie desperate ondervindings in sy lewe gehad, maar reg van die begin was God die Een op wie Dawid vertrou het. (Psalm 40:5) En wat het die Here vir Dawid gedoen? Hy het Dawid gedwing om op Hom alleen te wag.

Die Here het baie situasies toegelaat wat Dawid gedwing het om op Hom alleen te vertrou, sy enigste bron van verlossing. Terwyl hy hom egter in hierdie situasies bevind het, het Dawid nie gevoel of sy geloof sterker word en groei nie. Hy het swak, weerloos en broos gevoel. Hy het soos ‘n ou klipmuur gevoel wat wil omval. (vers 4)

Dit is hoe ons dikwels voel wanneer ons moet leer om op God alleen te vertrou. Dit wat ons geloof toets, voel dikwels op daardie oomblik soos iets wat ons geloof bedreig. Ons voel ook swak, weerloos en broos en asof ons gaan omval.

Wat doen ons dan?

Hierdie seisoene van wanhoop leer ons wat vertroue werklik beteken, en dit leer ons om op God alleen te vertrou. Hierdie gebeure dwing ons om te besef dat Dawid se woorde vir ons meer as net woorde moet wees: “Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ‘n toevlug.” (vers 9)

Wanhoop is nie slegs een van die effektiefste leermeesters oor vertroue in God nie, maar dit is ook een van die effektiefste instrukteurs in die skool van gebed. Daar is min dinge wat jou lei om jou hart in ernstige gebed voor God uit te stort soos wanneer dit lyk asof alles verlore is en jy wonder hoe jy gaan oorleef.

So moeilik soos hierdie ondervindings ook al mag wees, daar is niks in die wêreld wat vergelyk kan word met die troos wat ons siel ontvang wanneer ons regtig besef dat ons grootste hoop van God kom en dat Hy alleen ons rots en toevlug is, en dat ons Hom te alle tye kan vertrou.

Gebed: Dierbare Here, soms is geloof vir ons vaag en slegs teorie totdat ‘n krisis ons tref. Help my om my in tye van wanhoop, maar ook elke dag, tot U te wend. Leer my om U ten volle te vertrou. Amen