Volmaakte beloftes, volmaakte plan - 28 April 2020

Deur Louise Gevers

Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” Matteus 6:33-34

Daar is ‘n vrolike getjirp en die klanke van voëlgesang buite my venster terwyl die wilde voëls die saad van die voertafel af oppik en dan weer wegvlieg, net betyds vir die volgende vlaag besoekers. Anders as die geval tans met baie mense, is hulle vry om te kom en gaan en die saad wat vir hulle voorsien word te geniet, en môre weer terug te kom. Dit is dus geen verrassing dat Jesus hulle as ‘n voorbeeld gebruik om ons aan te spoor om ons nie oor môre te bekommer nie – ons deel dieselfde liefdevolle, deernisvolle Vader wat ons nooit sal vergeet nie.

Daar is wysheid en eenvoud in Jesus se woorde wanneer Hy oor vertroue in God praat en dat ons ons nie oor enigiets moet bekommer nie. Wanneer ons op Hom fokus, kan ons sy belofte geniet. As ons God in ons lewe eerste stel en sy wil volg, sal ons Hom in alles vertrou, en sal ons besef dat Hy vir ons sorg en dit geniet, en dit sal ons geloof laat toeneem.

Dit is iets wat ons doelbewus en met vaste voorneme moet aanneem. Doen ons dit nie, raak ons paniekbevange wanneer ons ons in moeilike situasies bevind; ons maak die verkeerde keuses en verloor ons vrede. Ons raak selfgesentreerd eerder as om op God te fokus en maak ander seer, net soos die groter voëls by die voertafel wanneer hulle nie die kleintjies ‘n kans wil gee om ook te eet nie.

Dit is nie hoe God dit wil hê nie. Deur sy beginsels na te kom, en Hom volkome te vertrou, sal help dat ons geloof in ons daaglikse omstandighede groei. Dit stel ons in staat om sy wonderlike weë raak te sien. Hy het vooruitgegaan om in al ons probleme te voorsien, want ons weet dat ons geen beheer oor ons omstandighede het nie. Op hierdie manier leer ons om sy beloftes en sorg te waardeer.

Jesus sê: “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 15:9-11)

Bring jou lewensmissie vrede en vreugde? Ons kan baie leer deur Jesus te vertrou sodat ons geloof kan groei en ons ware vrede en vreugde deur sy beloftes kan ondervind.

Gebed: Here Jesus, deur u volgehoue voorbeeld wys U aan ons die regte prioriteite. Help my om God se koninkryk en sy geregtigheid eerste in my lewe te stel sodat ek U blydskap en ware vrede kan ken. Amen