Volmaak in lyding - 17 April 2020

Deur Louise Gevers

Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. … Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Jesaja 53:4-6

Die wêreld kry tans swaar en almal word daardeur geraak. Vir sommige is hierdie grendeltydperk soos tronkstraf wat vergesel word van angs, pyn en vrees; vir ander hou dit hoop in. Skeiding, hongerte, siekte, persoonlike verlies en die uitgerekte wag, is alles vorms van lyding. Dit geld ook vir wanneer jy aan ‘n terminale siekte ly, of iemand wat jy liefhet in pyn sien. Die onbekende affekteer ons ook.

Die lyding van die mens is onlosmaaklik verbind aan daardie menslike toestand wat die Bybel sonde noem. Ons behandel mekaar so dikwels op ‘n manier wat sake vererger, eerder as om die lyding wat omstandighede teweeg bring te verlig, al weet ons nie hoe om die gevolge daarvan te hanteer nie. En tog, dat God lyding ten goede gebruik, veral deur sy Seun, kom herhaaldelik in die Bybel voor.

Jesus bring iets anders na hierdie wêreld vol lyding. Hy bring hoop, uit liefde gebore, waarheid, barmhartigheid en genade. Ons glo dat hierdie besondere gedeelte in Jesaja oor die dienaar wat gely het in Jesus volbring is, en dan meer spesifiek is dit volbring in die dramatiese gebeure van dié week wat die wêreld verander het, toe Hy gewillig, ter wille van ons, die lyding op Hom geneem het.

Jesus is misverstaan en beskinder deur die jaloerse, ongelowige Wetsgeleerdes wat Hom van godslastering beskuldig en sy leringe verwerp het. Hulle het ook die wonderwerke wat Hy gedoen het afgekeur en uiteindelik sy dood beplan.

Op die Woensdag van hierdie week in die geskiedenis was Jesus aan huis van Simon die melaatse, iemand wat Hy van die lyding van sy omstandighede bevry het. Hy meng liefdevol met diegene teenwoordig in hulle spesifieke situasie, selfs al is Hy op daardie stadium diep bewus van sy naderende lyding. Miskien het Maria iets daarvan aangevoel toe sy sy voete met haar trane gewas en Hom, asof vir ‘n begrafnis, gesalf het.

Die woordprentjie van die dienaar wat gely het, maak dit duidelik dat Jesus nie vir sy eie sonde gely het nie, maar vir ons s’n. Volkome onskuldig het Hy al die sonde van die hele wêreld op Hom geneem om as die offer vir ons sonde aan die kruis te sterf en ons te verlos – die Volmaakte vir die sondiges. Hierdie vleesgeworde Liefde het ons vrygemaak om mekaar lief te hê.

Liefde bring hoop in alle omstandighede en “volmaakte liefde verdryf vrees”. (1 Johannes 4:18)

Gebed: Here Jesus, dankie vir u liefde vol opofferings, vir u volmaakte lyding en dat ek, deur U, in my eie swaarkry liefde, hoop en vrede kan ervaar. Amen