Wanneer die wêreld ons onderkry - 23 Maart 2020

Deur Hennie Symington

Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede. Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het. Bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp, ek het benoud en bekommerd geword. Psalm 116:1-3

Geestelik is ons almal min of meer op dieselfde golflengte. Ons gaan kerk toe, (soms gereeld, soms nie), ons lees ons Bybel en word soms geïnspireer deur wat ons lees. Ons streef daarna om ‘n geestelike lewe na te volg, maar voor ons weet, word ons oorweldig deur talle eise wat oor ons pad kom en ons aandag aflei van ons geestelike reis.

Wat verwag die heilige gees van ons in hierdie onvolmaakte wêreld? Hy vereis iets wat heeltemal teenstrydig is met die hedendaagse samelewing waarin ons ons bevind.

Van kleins af word daar van ons verwag om ons plek vol te staan. Ons voel ons moet altyd “voor in die koor” wees. Om die agteros te wees is eenvoudig nie goed genoeg nie. Om die minste te wees, tel lankal nie meer nie. Daarom is meelewing, vergifnis en sorgsaamheid so belangrik in die koninkryk van God. Richard Rohr, die bekende teoloog, stel dit so mooi wanneer hy sê: Voor jy bid ‘laat u koninkryk kom, moet jy bereid wees om te sê: “Laat my koninkryk gaan.”

Soms het ons letterlik nie eers vyf minute afgestaan vir gebed nie. Probeer dus om elke dag ten minste 10 minute op sy te sit vir gebed – nie so maklik in die tye waarin ons leef nie. Die meeste van ons se aandag is maar maklik afleibaar, gevolglik ly ons geestelike lewe dikwels skipbreuk.

Gebed: Here, ons bely dat ons dikwels so behep is met ons besige lewe dat ons bitter min tyd afstaan om met U in gesprek te tree. Neem my by die hand en leer my om rus te vind in u teenwoordigheid.