Wanneer geestelike droogte nuwe groei bring - 19 Maart 2020

Deur Hennie Symington

Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? … Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie. Psalm 13:2,4

Daar kom ‘n tyd in elkeen van ons se lewe, wanneer dit voel asof jy jou in ‘n sielstilstand of ‘n dorre niemandsland bevind, van God en mens verlate. Al wat jy rondom jou gewaar is ‘n onoorbrugbare afstand tussen jou en die veilige hawe van ‘n God wat hoor, ‘n God wat sien, en ‘n God wat antwoord.

Dit is in tye soos hierdie dat wilde bewerings soos “God gee nie om nie,” of “God hoor nie,” jou nệrens bring nie. Dit is juis in tye soos hierdie dat ons met verwagting moet glo dat God sal antwoord, soos wat Hy talle kere in die verlede geantwoord het.

Dalk is dit tyd om die gallery van moedeloses wat by tye soos jy gevoel het, te besoek. Hier vind ons Elia onder die besembos, Job op die ashoop, Dawid wat vlug vir sy lewe en skuiling soek in ‘n grot, en uiteindelik, Christus aan die kruis wanneer Hy in angs uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matteus 27:46)

Gebed: Here, my God, wanneer dit winter in my lewe is, stuur U ‘n duif oor my pad om my te herinner aan u konstante teenwoordigheid in my lewe, selfs wanneer ek te moedeloos is om ag te slaan op die sagte klank van u stem. Amen