Dag 17: God is ’n liefdevolle PA vir ons - 3 Maart 2020

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

In die 1920’s was suksesvolle sakeman, John Griffith, weens die Groot Depressie, sy fortuin oornag kwyt. Vir oorlewing moes hy saam met sy vrou en babaseuntjie, Greg na Mississippi verhuis. Die enigste werk wat John kon kry, was om die groot treinbrug oor die Mississippirivier op en af te huis wanneer ’n skip wou verbyvaar.

Greg was 8 jaar oud, toe John besluit om sy seun saam te neem werk toe. Só sou hulle saam tyd kon spandeer. Greg was in vervoering oor die groot masjinerie in die beheerkamer wat sy pa moes hanteer. Teen middagete het John die brug opgelig vir geskeduleerde skepe wat sou deurvaar voordat pa en seun by die rivier gaan sit en eet het.

Hulle het pas klaar geëet toe die fluit van ’n aankomende trein, John herinner dat hy nog nie die brug laat sak het nie. Hy het opgespring en na die beheerkamer gehardloop terwyl hy oor sy skouer vir Greg skree om daar te bly sit.

In die beheerkamer het John vir oulaas seker gemaak dat alles veilig is, voordat hy die brug laat sak. Geskok het hy sy seun, Greg tussen die ratte van die brug gesien. Greg moes hom gevolg het en toe gegly het. John was meteens voor ’n keuse: Hy kon óf die sowat 400 passasiers op die trein se lewens spaar óf sy seun s’n. As hy die brug sou sak, sou Greg sterf.

Met trane wat oor sy wange stroom, het John sy gesig weggedraai en die brug laat sak. Die trein se geraas het sy seun se gille uitgedoof. Soos die trein verbyry het die passasiers doodluiters met hulle lewens aangegaan – koerant gelees, grappe vertel en na hulle kinders omgesien. Niemand het eers opgemerk dat John met sy vuiste op die toonbank hamer en skree: “Wat is fout met hierdie mense? Gee hulle nie om nie? Besef julle nie dat ek my seun vir hulle prysgegee het nie!”

God het dieselfde vir ons gedoen toe Hy sy seun aarde toe gestuur het. In Johannes 3:16 lees ons: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” In Psalm 103:13 lees ons: “Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.” Ook in 1 Johannes 3:1 staan geskryf: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.

God is ons liefdevolle PA. Het dit sy hart gebreek om sy Seun verlate aan die kruis te los? Verseker. Tog het Hy geweet dat dit die enigste manier was om ons van die houvas van sonde vry te koop sodat ons weer met Hom in ’n verhouding kan staan. Mag ons só leef dat ons daagliks met ons lewens vir Hom dankie sê vir dié opoffering! Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U bereid was om u Seun vir ons te gee sodat ons nie verlore hoef te gaan nie maar die ewige lewe kan beërwe! Help my asseblief om U as my PA daagliks beter te leer ken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen