Op die pad na Emmaus - 27 September 2021

Deur Ben Fourie

Moeg, hartseer, moedeloos, verward en ontsteld stap twee van Jesus se volgelinge die plus minus elf kilometer tussen Jerusalem en die dorpie Emmaus. Hulle is diep in gesprek oor al die dinge wat die afgelope paar dae in Jerusalem gebeur het toe nog ‘n reisiger by hulle aansluit. Op die “vreemdeling” se vraag waaroor hulle so loop en redeneer, gaan hulle van skone verbasing ‘n oomblik staan en ‘n mens kan die ongeloof in Kleopas se stem hoor wanneer hy vra: “Is u die enigste vreemdeling in Jerusalem wat nie weet van die dinge wat in hierdie dae in die stad gebeur het nie?” (Lukas 24:18b)

Op Jesus se vraag wat dan alles gebeur het, vertel hulle vir Hom die hele verhaal van wat met ‘n profeet uit Nasaret gebeur het, sy veroordeling en kruisdood en hulle verpletterde hoop dat hy die een sou wees wat Israel sou verlos uit die mag van Rome. Boonop, kla hulle, is daar nog vroue uit hulle geledere wat hulle ontstel het met ‘n verwarrende verhaal van ‘n leë graf en ‘n opstanding. Na al die tye saam met Jesus verstaan hulle nog steeds nie sy boodskap van ‘n hemelse koninkryk nie en jy hoor die amper moedeloosheid in Jesus se woorde: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het!” (Lukas 24:25)

Die verhaal speel hom uit met sy verklaring van die Skrifte, die uitnodiging dat Hy by hulle moet oorbly en die openbaring wanneer Jesus die brood neem en breek. By die besef dat dit Jesus self is wat met hulle gepraat het, val die hartseer, moegheid en ontsteltenis van hulle skouers af en hulle pak, ten spyte van die feit dat dit al donker was, weer die elf kilometer na Jerusalem aan om die goeie nuus aan die ander dissipels te gaan vertel.

‘n Ontmoeting met die opgestane Here Jesus het hierdie effek op elke mens wat dit waarlik glo.

Gebed: Here Jesus, maak my asseblief elke dag so opgewonde oor u oorwinning oor die dood, dat ek vir almal daarvan wil vertel. Amen