Nie almal kom tot geloof nie - 22 September 2021

Deur Ben Fourie

Kruisiging was niks vreemds in die tyd van Jesus nie. Dit is waarskynlik al so vroeg soos 600 jaar voor Christus in Babilonië gebruik as manier om die doodstraf te voltrek. Na die oorname van Babilon deur die Perse waarvan ons ook in die boek Daniël lees, is dit veral deur hulle gebruik, van waar dit verder versprei het en later deur die Romeine oorgeneem is.

Hierdie uiters wrede en vernederende metode van teregstelling was daarop gemik om as afskrikmiddel te dien om ander daarvan te weerhou om misdaad te pleeg of opstand te beplan. Dit was veral slawe, politieke misdadigers en diegene wat in ‘n oorlog verslaan is wat gekruisig is. Na die slaweopstand onder Spartacus misluk het, is 6 000 van die opstandelinge op een slag gekruisig en met die inname van Jerusalem in 70 n.C. is talle Jode ook so deur die Romeine doodgemaak.

Saam met Jesus is daar op die dag ook twee ander gekruisig. Matteus en Markus noem hulle rowers, Lukas praat van misdadigers en Johannes praat net van twee ander. Wat hulle gedoen het om hierdie erge vorm van straf te verdien weet ons nie, maar dit was nie sommer net ‘n kleinigheid nie. Dat hulle ook geweet het wie Jesus is lei ons af uit wat hulle aan die kruis gesê het. Die een noem pertinent dat hy weet Jesus maak aanspraak om die Messias te wees en spot hom daaroor. Die ander een vra vergifnis. Hulle het dus ‘n gelyke kans gehad om gered te word, maar een gaan verlore en die ander een kry die belofte dat hy op daardie dag saam met Jesus in die paradys sal wees.

Na al die eeue het dit nog nie verander nie. Diegene wat met geloofsake en met Jesus spot, kry ons vandag nog. Deur die Here se genade is die belofte nog dieselfde vir die wat Hom ontmoet en in Hom glo, ja soms selfs eers aan die einde van hulle lewe.

Gebed: Dankie Here dat U heeltemal onskuldig die verskrikking van ‘n kruisdood ook vir my deurgegaan het en dat ek ook ‘n bespreekte plek in die hemel het. Amen