Ragab se geloof - 11 Augustus 2021

Deur Xanthe Hancox

Wat belangrike punte in die geskiedenis van Israel betref, is hierdie verhaal in Josua 2 nie juis noodsaaklik nie. Die verhaal is nie nodig om God se krag of geregtigheid te bewys toe Hy Jerigo vernietig het nie. Maar niks in die Bybel is net per ongeluk daar nie. Ragab se storie van verlossing is een wat van God se onverwagse en onverdiende genade vertel.

Toe die volk van Israel op die punt gestaan het om Kanaän binne te trek, het Josua twee van sy manne as verkenners vooruit na Jerigo gestuur. Die stad was goed beskerm, die inwoners goed bewapen en oorlogsugtig. Dit het nie lank geneem vir die koning van Jerigo om van die spioene te hoor nie en hy het sy manne gestuur om hulle te soek.

Die verkenners het Ragab, ‘n prostituut wat in hulle God geglo het, ontmoet en sy het hulle in haar huis weggesteek. Toe die koning se manne daar aankom om hulle te vang, het Ragab ‘n leuen vertel en gesê dat sy nie weet waarheen hulle gegaan het nie.

Ragab het toe na die verkenners se wegsteekplek gegaan en bely wat sy weet: “Ek weet dat die HERE aan julle die land gegee het, en dat vrees vir julle ons oorval het, ja, dat al die inwoners van die land sidder oor julle. (Josua 2:9) Sy sê dan verder: “Die HERE julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder.” (vers 11b)

Dit is maklik om Ragab op grond van haar beroep te veroordeel. Ons ordeel mense soms vinnig gebaseer op hoe hule lyk, waar hulle bly of wat hulle vir ‘n werk doen. Ten spyte van haar beroep en waar sy gewoon het, het Ragab in die Here geglo.

In Jakobus 2 en Hebreërs 11 word Ragab genoem. In eersgenoemde word sy as ‘n geloofsmodel voorgehou. In laasgenoemde word sy geprys omdat sy die spioene in vrede ontvang het. In beide is sy ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens reageer op die gawe van verlossing.

Gebed: Vader, open ons harte om U en u plan vir ons wêreld te kan sien. Help my om my toekoms aan U toe te vertrou. In Jesus se Naam. Amen