Tamar: Soeker na geregtigheid - 10 Augustus 2021

Deur Xanthe Hancox

Verlede week het ons Maria se ongelooflike verhaal bespreek. Maar sy is nie die enigste vrou wat in Matteus 1 genoem word nie. Daar word vier ander vroue in Jesus se geslagsregister genoem en ons gaan hierdie week na hulle stories kyk.

Tamar is die eerste vrou wat genoem word en haar storie is werklik buitengewoon – en nie op ‘n besonder goeie manier nie!

Sy was die skoondogter van Juda, ‘n man wat drie seuns, Er, Onan en Sela, gehad het. Tamar was getroud met die oudste seun, Er, maar hy “was sleg in die oë van die HERE, en die HERE het hom laat sterf.” (Genesis 38:7) In daardie kultuur was dit gebruiklik vir ‘n weduwee om met die broer van haar oorlede man te trou sodat sy versorg kon wees en deel van die familie kon bly. Juda het Tamar met sy tweede oudste seun, Onan, laat trou, maar hy was ook sleg en die Here het hom laat sterf.

Op hierdie stadium het Juda besluit dat die probleem moet by Tamar lê en dat die risiko te groot is om haar met sy ander seun te laat trou. So hy het vir Tamar beloof dat wanneer sy jongste seun ‘n bietjie ouer is, sal sy versorg word – maar dit was ‘n leuen.

Die jare het verbygegaan en die derde seun het opgegroei. Tamar het toe besef dat dit nie Juda se voorneme was om sy belofte na te kom nie. Sy het haarself as ‘n prostituut vermom, by Juda geslaap en swanger geword.

Juda se eerste reaksie toe hy hiervan hoor, was om haar te laat verbrand. Toe hy egter uitvind wat Tamar gedoen het om te verseker dat sy versorg sou word, het hy gesê: “Sy is reg, eerder as ek.”

Tamar se omstandighede en haar optrede is nie juis ‘n verhaal wat ‘n mens verwag in die Bybel gevier sal word nie. Maar dit was haar soeke na geregtigheid nadat Juda sy belofte verbreek het, wat haar in Jesus se familie laat beland het.

Tamar is vereer deur die eerste vrou te wees wat in Jesus se geslagsregister ingesluit is. Die Messias in haar stamboom sou uiteindelik die mensdom van pyn, verlies en sonde verlos.

Gebed: Here, baie van ons het ‘n geskiedenis waaroor ons skaam is. U kan egter van ons besit neem en ons verlede in ‘n wonderlike toekoms verander. Ons toekoms berus, deur u genade alleen, in Jesus Christus. Amen