Die Here maak my lewe 'n fees! - 29 Julie 2021

Deur Ewald Schmidt

Die lewe van die kind van God is vol uitdagings. Die Here het ‘n plan vir elkeen van ons se lewe. Maar hierdie plan gebeur nooit net maklik nie. Soms laat Hy moeilike tye toe in ons lewe. Daardeur ontdek ons hoe afhanklik ons van Hom is, en dit verdiep ons verhouding met Hom. Die Here laat moeilike tye in ons lewens toe, dit vorm ons, dit maak ons sterker en gee ons wysheid soos ons ouer word.

Dawid het ‘n opwindende lewe gelei, maar verseker was dit nie altyd maklik nie. Hy het reuse verslaan, hy het ‘n hele paar mooi prinsesse gekry as vrouens. Hy was ‘n magtige koning. Hy het vrede en stabiliteit vir sy land gebring. Ja, daar was mooi groen weiveldtye, tye waar daar waters van rus was vir hom, en vir sy land.

Maar dieselfde lewe het ook baie donker dieptes gehad. Dit het baie jare geneem voordat hy uiteindelik sy roeping kon opneem, om koning van die hele Israel te word. Hy moes as seun skape oppas in die veld. Hy moes ‘n koning met ‘n gemoedsversteuring rustig hou met sy musiek. Hy moes talle oorloë veg. Daar was groot hartseer in sy familie, met kinders wat rebels word en hom wou doodmaak vir sy troon. Op so baie verskillende terreine was daar uitdagings deur opponente, sy lewe was nooit maklik en rustig nie.

Tog noem die Bybel hom ‘n man na God se hart. As hy terugkyk oor sy lewe, dan erken hy die Here se goedheid. Die Here laat hom by ‘n feesmaal aansit, ‘n oorwinningsfees waar die vyande net verslae toekyk. Dawid het beleef dat hy altyd by die Here welkom is, ‘n eregas in God se teenwoordigheid.

Uit Dawid se lewe leer ons dat alles nie reg hoef te loop vir ons om uitnemende lewens te lei nie. Die Here vorm ons juis, en die reis deur al die mislukkings heen is die avontuur van die lewe. As ons eregaste van God is, is die belangrikste nie wat ons doen nie, maar wie ons is. Ons is God se kinders, Hy stap ‘n pad saam met ons, en dit maak van ons lewe ‘n fees. Dan verstaan ons wat Paulus in Filippense 4:4-5 bedoel het toe hy die opdrag gegee het: “Wees altyd bly in die Here! … Wees inskiklik teenoor alle mense, want die Here is naby!” God se teenwoordigheid, sy sorg, dit is ons bron van blydskap.

Die lewe gebeur. Maar God is naby. Daarom is my lewe ‘n fees – ek behoort aan die Here!

Gebed: Dankie Here, dat die belangrikste ding wat oor my gesê moet word is dat ek kind van God is. Dankie dat ek u eregas is, dat ek met u hartlikheid mooi versorg word. Dankie dat ek mag wees wie ek is, omdat U my God, my Gasheer is. Amen