Kies jou wapens baie versigtig! - 7 Julie 2021

Deur Ewald Schmidt

Koning Saul het te hore gekom dat sy jong musikant omgekrap is oor Goliat se woorde, en oor die vrees by die leër van Israel, en hy ontbied hom. Dawid het vir Saul in vers 32 herinner dat ‘n gelowige nie moedeloos moet word oor ‘n reus nie, hy sal teen Goliat gaan baklei. Saul vertel vir Dawid die feite – hy is nog net ‘n kind, en Goliat is van kleins af ‘n vegter. Dawid kyk terug na sy eie ervaring as skaapwagter, na die leeu en die beer wat sy pa se lammers probeer vang. Met die voortvarendheid van die jeug sê Dawid, dan gryp hy die leeu of die beer aan die baard en slaan hom dood … (1 Samuel 17:35). Dawid glo ook kinderlik: Hierdie Filistyn gaan met die Here se hulp val! (1 Samuel 17:36)

Koning Saul sou die beste wapentuig in die land besit het. Hy bied vir Dawid sy wapenrusting aan. Saul se wapens mag dalk die beste in die land wees, maar nie vir Dawid nie. Hy kan skaars beweeg daarin, omdat koning Saul ook ‘n groot en sterk man was, (wat self veronderstel was om die reus te gaan aanpak daarmee!)

Dawid neem die wapens wat hy goed ken, op. Hy het net sy skaapwagterskierie geneem, en die slingervel waarmee hy diere verjaag het, met vyf gladde klippies uit die spruit. Dit maak geen militêre sin nie, maar dit was wat hy goed geken het. Hierin leer ons ‘n baie belangrike les vandag. Wanneer Paulus oor die wapenrusting van die gelowige praat in Efesiërs 6:10-20, dan sê hy ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Ons wapens is dus ook nie die wapens van die wêreld nie. Ons wapenrusting is dié wat die Gees gee. Dawid se wapens wat hy kies, kom uit sy ervaringswêreld uit, daar waar hy as skaapwagter daarmee gewerk het. Met die geloof in sy hart, en die wapens wat hy goed geken het in die hand, was hy gereed om die reus aan te pak.

Gebed: Here, dankie dat U my toerus met die wapens van die Gees, en geen reus wat u roeping in my lewe probeer keer, sal staande bly nie. Amen