Vry om te vergewe - 26 April 2021

Deur Xanthe Hancox

Jesus, in ‘n uiterste daad van onselfsugtige liefde, het aan die kruis al die seer en pyn van die sonde en dood in hierdie wêreld op Hom geneem – ‘n onbegryplike swaar las om te dra. Tog het God se heerlikheid en krag hierdie las en die dood oorwin en bring daardeur genesing en vergifnis aan almal wat daarna verlang.

Deur die dood en opstanding van Jesus, gee God aan ons almal die gawe en vryheid om te vergewe. Tog is dit moeilik om die gawe van vergifnis te aanvaar, en dikwels wil ons nie sonder ‘n prys vergewe nie. Soms is die wonde van die verlede so diep en die pyn wat ons moet verduur, oorweldigend.

Vergifnis kom nie maklik nie, maar dit is kragtig en mooi. Vergifnis kondoneer nie die seer wat jou aangedoen is nie. Vergifnis erken die ware seer wat jy ondervind en dit wil jou bevry van die gevoel van woede en die begeerte om wraak te neem. As ons aan woede vashou, ‘n wrok koester en wil hê dat die oortreder dieselfde pyn moet ondervind as wat ons aangedoen is, kan ons baie maklik in ‘n lewe vol bitterheid en wrewel verval.

Die Here verlang soveel meer vir ons! Vergifnis maak ‘n deur oop sodat ons ‘n lewe kan hê vol van die vreugde, krag en vryheid wat God ons in liefde gee.

Mag God se liefde jou vandag bevry om iemand anders te kan vergewe.

Gebed: Liewe Heer, U skenk aan ons die wonderlike gawe van vergifnis. Werk asseblief in ons sodat ons hierdie gawe sonder ‘n prys aan ander kan gee. Dankie Jesus. Amen