Vry om te behoort - 23 April 2021

Deur Xanthe Hancox

Vir my is een van die ergste goed wanneer ‘n mens ‘n nuwe werk begin, die feit dat jy niemand ken nie. Al die ander ken al die stories en grappies en hulle weet hoe projekte in die verlede gewerk of nie gewerk het nie. Maar jy, as die nuweling, moet wat soos eeue voel spandeer om die dinamika uit te werk en hoop dat jy nie per ongeluk iets verkeerd sê of doen nie.

Dit is so ‘n verligting wanneer iemand jou onder hulle vlerk neem, vir jou wys waar die beste plekke vir middagete is en jou in die algemeen net welkom laat voel.

Of dit nou ‘n nuwe werk, skool, stad of kerk is, ons almal soek ‘n plek waar ons gemaklik voel. Ons soek ‘n plek waar ons behoort en waar ons aanvaar word vir wie ons is. Ons voel veilig wanneer ons op ‘n plek is waar ons nie hoef voor te gee om iemand te wees wat ons nie is nie.

Deur die opstanding van Jesus, bied die Gees van God aan ons die geskenk om te behoort en verwelkom Hy ons in sy familie. God nooi diegene wat na ‘n nuwe lewe in Christus soek om hulleself in sy teenwoordigheid gemaklik te maak.

Nie alle aardse families en gemeenskappe is verwelkomend en toeganklik nie, maar die vryheid om aan sy familie te behoort, is die geskenk wat God ons deur die opstanding bied. Wanneer ons kinders van God genoem word, kan ons in al die voorregte en verantwoordelikhede deel. Ons God aanvaar ons en Hy het ons lief vir wie ons in Christus is. Deur die opstanding is ons vry om te behoort!

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U ons as u kinders aanvaar. Soos U ons met liefde nooi om deel van u familie te word, gee dat ons ook u liefdevolle gasvryheid aan ander sal bewys. In Jesus se Naam. Amen