Krag in 'n gemeenskap - 16 April 2021

Deur Xanthe Hancox

Ek het nog altyd heuningbye verstommend gevind. In vroegsomer kan ‘n swerm heuningbye uit sowat 50 000 “burgers” in een byekorf bestaan. En alhoewel dit met die eerste oogopslag baie deurmekaar voorkom, is dit ‘n goed georganiseerde superorganisme. Al die lede van die gemeenskap – of dit nou die koningin, ‘n werker of ‘n hommelby is – het dieselfde doel: om te verseker dat die swerm oorleef. Indien elke by nie hulle individuele taak verrig nie, kan die swerm in die byekorf nie funksioneer nie.

Deur in die krag van die opstanding te leef, beteken dat ons ons behoefte aan God en mekaar erken. Die Heilige Gees bekragtig die gemeenskap van gelowiges met die nodige geestelike gawes en vermoëns om die koninkryk van God uit te brei. Individuele gelowiges kan dit nie alleen doen nie. Die krag van die opstanding kom deur in eenheid saam te leef en te werk en die gawes, talente en vermoëns van alle ander in die gemeenskap van Christus te erken en te ondersteun.

Ons almal het ‘n plek en ‘n doel. Ons almal het gawes om aan te bied, en as sy kinders ag die Here elkeen van ons na waarde. Wanneer ons in eenheid en in die krag van die opstanding leef, vier en bevestig ons die gebruik van elkeen se gawes. Laat ons mekaar vandag aanmoedig om in eenheid en in die krag van Jesus Christus, ons Here, te leef.

Gebed: Opgestane Here Jesus, maak ons een in U. Gee dat ons liefde vir U en vir mekaar van u liefde en genade sal getuig. Maak ons een liggaam deur die krag van u Heilige Gees. Amen