Jesus oor geloof, vergifnis en die vyeboom - 30 Maart 2021

Deur Louise Gevers

Toe ons Kaap toe getrek het, het ek soveel van my gustelingplante as wat ek kon in die motor gelaai, want ek was bang hulle sou in die treklorrie beskadig word. Die res het ek vir die nuwe eienaars van ons huis agtergelaat om te geniet. Ek sou alles agtergelaat het as ek geweet het dat die temperatuur by ons oornagplek onder vriespunt sou wees, en dat twee dae later, my arme ontvriesde orgidee en viooltjies in ‘n nuut geboude “planthospitaal” in ons tydelike akkommodasie om oorlewing sou moes veg.

Ek dink steeds aan al die verrotte wortels tussen die lewendiges wat ek moes uitsny toe ek, in ‘n poging om die orgidee te red, hulle moes verplant. Ek was diep hartseer by die gedagte dat ek miskien nooit weer hulle pragtige blomme sou sien nie.

Dit was ook die wortels van die vyeboom wat die probleem was. Niks met dooie wortels kan leef en vrugte dra nie.

Dit was vroeg die Dinsdagoggend van daardie Groot Lydensweek dat Jesus en sy dissipels verby die vyeboom wat Hy die vorige dag vervloek het, geloop het en Petrus verwonderd opgemerk het dat die boom oornag verdroog het. Jesus se woorde: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.” (Markus 11:14) het dit “tot in sy wortels [laat] verdroog.” (Markus 11:20) Miskien wou Jesus met hierdie daad van veroordeling die belangrikheid van geestelike onvrugbaarheid beklemtoon in godsdienstige mense wat vroom voorkom en tog ongelowig is, soos die geval was met Israel se geestelike leiers wat hulle langverwagte Messias nie wou herken en aanvaar nie.

Met die verdroogde boom as aanknopingspunt, het Jesus sy dissipels oor geloof geleer.

Jesus het hulle eerstens op God se grootheid en mag laat fokus: “Niks is vir God onmoontlik nie” (Lukas 1:37) en toe het Hy beklemtoon dat deur geloof hulle die waarskynlik onmoontlike kon doen: “Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see'”. (Markus 11:23) Maar Hy het ook die noodsaaklikheid beklemtoon om te “glo dat julle dit al ontvang het” (Markus 11:24), en as “julle iets teen iemand [het], vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” (Markus 11:25)

Jesus sê dat geloof nie beperkend is nie, maar om effektief te wees, moet dit ‘n werklikheid wees. Ons moet in God glo en ons moet in die regte gees tot Hom nader. Maak ons nie van geloof ‘n bespotting as ons glo dat God ons gebede sal beantwoord, maar ons eer Hom nie deur sy gebooie te onderhou nie? Kan ons bid om vergewe te word, maar ons weier om ander te vergewe? Ons sê dus dat ons begeertes belangriker is as God se gebooie. Jesus beklemtoon dat vir effektiewe geloof dit belangrik is om in die regte verhouding met God te wees: Hy vergewe ons as ons ander vergewe.

Ware geloof, selfs al is dit “so groot soos ‘n mosterdsaadjie”, (Matteus 17:20) kom uit ‘n rein hart wat vergifnis bring.

Gebed: Here Jesus, “om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.” (Psalm 40:9) Skenk aan my ‘n rein hart en help my om in geloof te groei. Amen