Die denkwyse van Jesus oorwin - 25 Maart 2021

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

‘n Week van nou, herdenk ons in die kerkjaar die instelling van die Nagmaal toe Jesus sy dissipels se voete gewas en hulle voorberei het vir dit wat moes gebeur.

Dink ons ooit werklik aan dit wat deur Jesus se gedagtes moes gegaan het toe Hy die “brood geneem en die seën gevra [het]? Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.” Toe neem Hy ‘n beker … en sê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed … wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. (Matteus 26:26-28) Dit was ‘n aangrypende oomblik, maar ten spyte van die verraad en verskrikking wat op hande was, het Jesus kalm voorgekom.

Het Jesus gedink aan dit wat binnekort met Hom sou gebeur, of was sy liefde vir sy dissipels sy grootste bekommernis, om aan hulle ‘n visie en krag te gee om selfs na sy dood in gemeenskap met Hom te bly en om ook aan diegene wat na hulle Hom sou volg te kan voorsien?

Jesus het regdeur sy lewe nooit gewankel in die uitvoer van sy Vader se wil nie, en op hierdie stadium van sy lewe het Hy ook nie gewankel nie. Alhoewel sy angs duidelik sigbaar was toe Hy in die tuin gebid het, (Lees Lukas 22:43-44) was sy hart op God gefokus en sy prioriteite duidelik. Van jongs af, het Hy sy keuses met selfvertroue en doelgerigtheid gemaak, want Hy was tot die wil van sy Vader verbind. Daarom kon Hy uitdagings met moed en toewyding hanteer en op ‘n bekwame wyse regdeur sy lewe die regte keuses maak – selfs toe Hy vir drie dae in die tempel agtergebly het om met die rabies te praat, onbewus van sy ouers se bekommernis omdat hulle nie geweet het waar Hy was nie. (Lees Lukas 2:45-47)

Jesus se vaste verbintenis om aan God gehoorsaam te wees in sy sending om verlorenes te red, het beteken dat Hy ‘n persoonlike prys moes betaal. Dit was sy keuse. Hy het die versoekings van die duiwel weerstaan, selfs nadat Hy veertig dae sonder kos en water in die woestyn deurgebring het en uitgeput was. Hy het die storm stilgemaak en op die water geloop – sy geloof het geen perke geken nie – maar sy grootste oorwinning was om na die kruis te gaan om die duiwel daar, eens en vir altyd, te verslaan en verlossing na die wêreld te bring.

Jesus se volgelinge het ook ‘n missie en daarmee saam sy krag om suksesvol te wees want “wat ons betref, ons het die denkwyse van Christus” (1 Korintiërs 2:16) en ons word versoek om “nie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar [te] verander deur die vernuwing van [ons] denke, sodat [ons] goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.” (Romeine 12:2) Ou denkpatrone belemmer en verhinder groei, en Paulus dring by die Filippense aan om “… eensgesind te wees – een in liefde, …” en “nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself.” (Filippense 2:2-3)

Ons moet Jesus se voorbeeld volg. “Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem … het Hy Homself verneder, deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis.” (Filippense 2:6-8)

Die skoonheid van Jesus lê in sy nederigheid, sy heerlikheid in sy majesteit, sy genade in sy gehoorsaamheid en sy oorwinning in sy dood.

Gebed: Here Jesus, U ken nou heerlikheid en majesteit vanweë u nederige en volkome liefdesoffer om die wêreld van sonde te reinig. Dankie dat U dit vir my moontlik maak om geregtigheid, oorwinning en vrede te ken, asook die wonder van u Gees wat in my werk. Amen