Wat Jesus sien en vergeef - 15 Maart 2021

Deur Louise Gevers

Een van die innemendste dinge van ‘n kind is hulle deursigtigheid. Jy kan betyds opspring om te keer dat ‘n kind ‘n warm koppie tee omgooi, of die hond red wanneer hulle sy stert trek, want die uitdrukkings op hulle gesiggies laat jou geen twyfel wat in daardie koppies broei nie. Iets wat in die latere lewe nie so maklik is om te bespeur nie.

‘n Persoon se ouderdom is egter geen hindernis vir Jesus nie. Hy het dikwels bewys dat hulle eksterne aksies Hom nie gekeer het om te weet wat hulle dink nie. Een so ‘n keer was toe Hy vir ete genooi is na die huis van Simon, die Fariseër en ‘n vrou daar aangekom en Hom met reukolie gesalf het.

Simon se onmiddellike reaksie was veroordelend. Eerstens omdat hy gedink het die vrou met die reukolie was nie waardig om daar te wees nie, sy was ‘n sondaar – ‘n prostituut – en tweedens het hy getwyfel of Jesus waarlik ‘n profeet was en Hom daarom in sy onkunde bespot.

Dit was in antwoord op Simon se gedagtes dat Jesus die gelykenis van die twee skuldenaars vertel het – elke man het ‘n bedrag aan ‘n geldskieter geskuld, een ‘n groot bedrag, die ander een ‘n klein bedrag. Jesus se vraag aan Simon, nadat Hy hom vertel het dat die geldskieter genadiglik beide se skuld kwytgeskeld het omdat hulle nie kon betaal nie, was: “Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” (Lukas 7:42)

Jesus was nie verras dat Simon die regte antwoord op hierdie eenvoudige gelykenis gegee het nie, maar Hy het dit gebruik om Simon die waarheid in die situasie te laat sien: sonde is sonde, groot of klein, en skynheiligheid is nie beter as prostitusie nie. Wat Jesus gesien het, was twee sondaars wat beide sy genade benodig het, net soos die geldskieter genade aan die twee skuldenaars bewys het. Ons is voor Hom sondaars wat sy genade benodig, selfs wanneer ons nie ons eie foute kan raaksien nie.

Simon was onbeskof en het nie eers die minimum gasvryheidsgebaar van ‘n hartlike groet en water om sy voete te was aan Jesus bewys nie, maar die vrou het haar eie trane op Jesus se stowwerige voete gestort, hulle met haar hare afgedroog en daarna met duur reukolie gesalf.

Met wie identifiseer ons die meeste in hierdie stadium van ons lewens? Met die arrogante een wat sy eie sondes nie raakgesien het nie, maar op die sonde van die ander een gefokus het, of met die nederige een wat gehuil het omdat sy geweet het hoe baie sonde sy gedoen het?

Wat sien Jesus in ons?

Gebed: Wees my genadig, o God, in u troue liefde, … Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig. Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. Amen (Psalm 51:3,6,8-9)