God se hart vir ons - 9 Februarie 2021

Deur Benescke Janse van Rensburg

Soms dink ons dat ons God net met groot krisisse in ons lewens kan raadpleeg. Dít is egter ’n fout. Ons kan en behoort Hom deel van elke situasie in ons lewens te maak. Hier is wat Lee John Serafin, ’n voltydse pastoor van Kaapstad, ’n tydjie gelede beleef het:

Lee: “Vir oefening hou ek daarvan om te draf. Sowat 8 maande gelede het ek egter agtergekom dat my draftekkies my voete begin seermaak. Dit was tyd vir ’n nuwe paar. Met drie kinders in die huis en ’n beperkte begroting het ek vir my vrou gesê dat ek maar liewer sou wag. Daar was in daardie stadium geen ekstra geld vir sporttoerusting in ons begroting nie.

“Wanneer ek my tekkies aangetrek het om te gaan draf, was my gebed: ‘Vader, u weet dat ek ’n nuwe paar tekkies benodig. Dankie dat ek vir U daarvoor kan vra. Amen.’

“Een oggend ’n tyd later nooi ’n vriend my vir ontbyt. Ons het net klaar geëet toe hy na my draai met die woorde: ‘Jy kort nuwe tekkies, nè?’ Ek was uit die veld geslaan. Daar was geen manier dat hy van my behoefte vir ’n paar nuwe tekkies kon weet nie. Hy het vertel dat hy vir die laaste twee weke elke dag wanneer hy sy oefentekkies aangetrek het om te gaan oefen duidelik in sy gees gehoor het: ‘Lee kort ’n nuwe paar tekkies.’ Ek kon net lag oor hoe God werk.

“Twee dae nadat ek my nuwe paar tekkies gekry het, bel nog ’n vriend my en sê dat hy op sy hart voel om vir my ’n paar tekkies te gee. Weer kon ek net lag. Ek het hom van die ander tekkies vertel en dat ek reeds geholpe is. Hy wou egter weet of dit draftekkies of dratekkies is wat ek reeds ontvang het. Ek het gesê draftekkies. Hy het gesê dan koop hy vir my dratekkies – wat hy gedoen het.

“Daar sit ek binne een week met twee pare splinternuwe tekkies – ’n geskenk uit God se hand! God is ’n liefdevolle Pa. Soms gee Hy vir ons wat ons begeer net omdat Hy kan. Soms word sy liefde aan ons juis geopenbaar deur dít wat Hy terughou. Hy is Soewerein en Hy het ons almal ewe lief – van die straatveër, die koning, die broodbakker, skoonmaker, skinker, dokter en selfs die een wat versorg moet word. Ek prys sy Naam.”

Lee is reg. God het ’n begeerte om sy goedheid aan ons te openbaar. Soms maak ons die fout deur te dink dat ons Hom nie met “onbelangrike dinge” moet pla nie. In Jakobus 4:2b lees ons egter: “… julle het nie, omdat julle nie bid nie.” In Matteus 7:7 herinner Jesus ons: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” En in Psalm 145:9 lees ons: “Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het.”

God wil sy goedheid aan ons demonstreer – in groot krisisse, maar ook in klein “onbelangrike” behoeftes. As dit vir ons belangrik is, is dit ook vir Hom belangrik! Kom ons gesels weer met Hom oor die detail in ons lewens. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U ons lief het en omgee oor elke aspek van ons lewens. Ek bring vandag (noem jou behoefte) na U. Help my asseblief omdat ek weet dat U kan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen