Wat saai jy? - 5 Februarie 2021

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

Gestel ons lewens word met ‘n tuin vergelyk – ons goeie dade is soos goeie saad wat blomme laat opkom en ons slegte dade is soos onkruid wat mettertyd verskyn. Hoe lyk jou “tuin” vandag?

’n Oostenryker, Eric Schwan wat op Kersdag oorlede is, het in sy testament geld aan die Franse dorpie LeChambon-sur-Lignon bemaak. Die rede hiervoor is omdat die inwoners van die dorp tydens die Tweede Wêreldoorlog vir 2 jaar lank aan hom en sy familie skuiling gebied het.

Alhoewel min of geen van die inwoners van destyds vandag steeds leef nie, pluk die nageslag van diegene wat goed was vir die Schwans steeds die vrug daarvan.

Dieselfde gebeur in ons lewens ook. Natuurlik is ons nie goed vir ander met die doel om iets terug te kry nie, maar keer op keer is daar wel vir ons (of ons voorgeslagte) seëning weens die goeie saad. Net so, as ons (of ons voorgeslagte) iemand doelbewus te nagekom het en ons kies om dit nie voor God te bely nie, is daar wel ook gevolge daarvan. Hoekom? Omdat God alles sien en sy Woord steeds vasstaan.

In Galasiërs 6:7,9 lees ons: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. . . En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” In Spreuke 19:17 word ons herinner dat God sien as ons goed is vir ander: “Wie hom oor ‘n arm mens ontferm, gee ‘n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.” En in Matteus 6:6 lees ons: “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

Kom ons bid en vra God om ons bewus te maak van enige onkruid in ons lewens. Kom ons wees ook braaf genoeg om iets daaraan te doen. Dít terwyl ons ons oë oophou om goed te wees vir die mense om ons. Die vrug van goeie saad is altyd die moeite werd – selfs al is dit eers ons nageslag wat dit smaak! Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U wakker is oor U woord. Wys my asseblief as daar enige onkruid in my lewe is waarvan ek moet ontslae raak. Lei my ook asseblief deur u Heilige Gees om geleenthede raak te sien vir goeie saad. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen