'n Nuwe Hemel? - 29 Januarie 2021

Deur Hennie Symington

Bybelteks(te)

Ons soeke na groei en nuwe lewe het in die tuin van Eden begin en eindig met ʼn visioen uit Openbaring. Wat kan ons te wagte wees? Dalk fluister ons aan onsself: “Waar daar ʼn tuin is, daar sal God wees.” Dis tog logies: hoe nader ons aan die natuur is, verbeel ons ons, hoe nader is ons aan God.

Die verhaal neem egter ʼn onverwagse wending. Die nuwe hemel en die nuwe aarde is nie ʼn tuin nie. Dis ʼn stad met mure van jasper en goud. Die fondament is met saffier, agaat, smarag en nog baie soorte edelstene versier. Selfs die rivier van die lewe is soos kristal.

Gaan ons dan nie in die ewigheid tuin maak nie, wonder ons. As ons egter tussen die lyne lees, hoor ons God se stem wat ons iets in die oor fluister wat stadigaan ons houvas op die aarde verslap. In die begin was ons gemaak van grond; maar in die nuwe hemel en die nuwe aarde, lees ons in 1 Tessalonisense 1:5 en in talle ander plekke, dat ons kinders van die lig is. Ons word nuwe skepsels wanneer ons die stof van die aarde van ons afskud en uiteindelik die ewigheid binnegaan.

In God se teenwoordigheid word die bekende aardse landskap omskep in stralende glorie. En net soos wat ons voortdurend gehunker het na ons verlore, aardse paradys, net so sal ons mettertyd ook geheg raak aan hierdie nuwe landskap waar God alles in almal sal wees. Intussen leef ons soos kinders van die lig totdat ons op God se tyd saam met Hom sal wees in die nuwe Jerusalem.

Gebed: Here in tye van swaarkry, pyn en onenigheid, verlang ons om by U te wees. Dankie dat U vooruit gegaan het om ʼn tuiste vir ons te skep waar daar geen hartseer en trane sal wees nie. Gee dat ons nêrens op ons reis sal gaan sonder dat ons die geur van ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde saam met ons dra nie. Vir altyd. Amen