Tuine is vir mense - 20 Januarie 2021

Deur Hennie Symington

Bybelteks(te)

Toe God die tuin van Eden aangeplant het, het Hy sy langtermynverpligting teenoor die mens wat Hy geskape het duidelik uitgespel. Hy het ʼn tuin volgens skaal vir die mens gemaak waar hy nie slegs voedsel kon verbou om in sy behoeftes te voorsien nie, maar ook die prag van die tuin kon geniet. Die heel wonderlikste was egter dat Hy gekies het om saam met sy skepsels wat Hy na sy beeld gemaak het, die tuin te geniet. Hy het intiem met hulle gewandel terwyl sy teenwoordigheid die tuin gevul het.

Die hartseer is dat hierdie idilliese tuin vandag slegs ʼn vae herinnering is van “…. eenmaal, baie lank gelede het ek ʼn tuin gehad. Dit was hemel op aarde. Maar ek het dit verloor omdat ek gedink het daar is elders iets beter.”

Die herinnering aan ʼn Eden, ʼn plek waar God saam met ons gewandel het, het ons egter nooit verlaat nie. Dit bly steeds in ons kollektiewe geheue. Die vraag is, hoe help hierdie herinnering ons om te oorleef in die woesteny van ons wêreld waar dit lyk asof tuine die laaste ding is waaroor mense bekommerd is? Ons kyk met verbystering na die vernietiging van die reënwoude en die diere wat vervaard vlug voor die groot brande. Waar is die tuin nou? Ons kyk na ons wêreld waar die poolys voor ons oё verdwyn en ons vra ons af: “Here, wat het ons aan die skepping gedoen?”

Tog word ons steeds daaraan herinner om ons ooreenkoms met die Skepper as die bewaarders van sy skepping na te kom. Dalk as ons op ʼn volhoubare manier leef, sonder die strewe na groter en beter, kan ons dit in gehoorsaamheid aan God se opdrag om oor die natuur te heers, steeds hemel op aarde maak.

Gebed: Skeppergod, leer my om my drange en behoeftes te beteuel. Leer my om nie pal in die versoeking te kom om alles te gryp eerder as om vrede te vind in u alomteenwoordige en konstante liefde nie. Amen