Wagtend op die "Woord" - 9 Desember 2020

Deur Hennie Symington

Daar is een ding is waarvan ons geslag nie hou nie en dit is om te wag. As ons iets wil hê, wil ons dit nou hê! Hier is goeie nuus vir diesulkes! Die wagtyd is verby en ons kan nou die dae tot by Kersfees begin aftel. Deur die jaar is ons so op ons eie dinge en gesinne met hulle eie probleme en aktiwiteite gerig dat ons nie eens aan Advent dink nie. Maar hoe vier ʼn mens nou eintlik Advent? Deur te wag! Vir ʼn moderne geslag is dit egter moeilik om te wag. Die iPhone en talle ander tegnologiese wonders het wag inderdaad onnodig gemaak.

God laat hom egter nie aanjaag deur mensetyd nie. Wanneer ons praat van wag, praat ons van God se tyd. Om te wag beteken om in die tussentyd of die interim, die “nog nie” te leef. In die Bybel leer ons van die honderde jare wat verbygegaan het voor die geboorte van Christus. Maar die hoop het nie beskaam nie. Daar was talle voorspellings van ʼn lig wat in die donker sou skyn, maar soos die tyd verloop het, het mense moeg geraak vir wag. “Wanneer kom die redder dan nou?” wou hulle weet.

Hoe wag ʼn mens op die Woord? Die wagtyd is ʼn tyd om troos te vind in die afwagting sowel as die vervulling van ʼn belofte wat baie eeue gelede gemaak is. Probeer om Advent te sien as ʼn tyd vir introspeksie en van wag met verwagting. En terwyl ons wag, bid ons om ʼn nuwe en betekenisvolle ervaring van Christus se koms, nie net na die aarde nie, maar ook in jou binneste en jou diepste wese. Wie weet, in die aanloop tot Advent ontmoet jy God opnuut. Wat ʼn wonderlike geskenk sou dit nie wees nie!

Gebed: Here, ons kan nie wag nie. Alles moet nou gebeur. Daarom bid ek, vul U my dae met druppels hoop, vreugde en ʼn opgewondenheid wat die goeie nuus: Kersfees kom! Kersfees kom! aan die wȇreld wil verkondig. Amen