God is stééds God - aan die werk met sy onsigbare hand - 17 November 2020

Deur Benescke Janse van Rensbury

’n Laatmiddagtrein, ’n man met ’n hart vol verlange na sy vrou en God se onsigbare hand aan die werk.

Jare gelede het Marcel Sternberger teen laatmiddag ’n trein van Brooklyn af huis toe gehaal nadat hy vir ’n siek, sterwende vriend gaan kuier het. Dit was sy eerste keer op dié spesifieke trein aangesien hy nie in daardie area gewoon het nie. Die trein was volgepak, maar die oomblik toe Marcel opklim het ’n man opgestaan en afgeklim. Hy het op die oop sitplek gaan sit.

Langs Marcel het ’n man gesit en ’n Poolse koerant lees. Marcel kon sien dat die man in die advertensieblaaie rondkyk. Op die vraag of hy na werk soek, het die man geantwoord dat hy na sy vrou soek. Hy het verduidelik dat hy oorspronklik van Hongarye is. Gedurende die oorlog het die Russe hom weggeneem om die gestorwe Duitsers te gaan begrawe. Hy het later ontsnap, maar moes by die huis ontdek dat sy vrou weg is. Was sy in die konsentrasiekamp in Auschwitz? Was sy deel van die groep mense wat die Amerikaners gered het en na Amerika geneem het? Hy het besluit om sy vrou in Amerika te gaan soek.

Marcel was verbaas oor hoe bekend hierdie storie geklink het. ’n Paar dae vantevore het hy ’n Hongaarse vrou by ’n funksie ontmoet. Sy het hom dieselfde storie vertel – ook dat sy geen idee het of haar man nog leef of nie. Om een of ander rede het Marcel die vrou se naam en telefoonnommer neergeskryf. Hy het die man gevra wat sy vrou se naam is. “Marya Paskin,” het hy geantwoord. In stilte het Marcel sy beursie oopgemaak en die papier oopgevou. Die vrou se naam was Marya Paskin. Hy het die man gevra wat sy naam was. Dit was Bela Paskin.

Sonder om vir Bela te sê wat hy vermoed, het Marcel hom gevra om saam met hom by die volgende treinstasie af te klim. Hulle het na die naaste telefoonhokkie gestap. Terwyl Bela buite wag, het Marcel die nommer op die papiertjie gebel. Marya het geantwoord. Sy kon Marcel onthou van hulle ontmoeting dae vantevore. Hy het haar gevra wat haar man se naam is. “Bela Paskin,” het sy geantwoord. Marcel het sy gesprek met haar afgesluit met die woorde: “Marya, jy is op die punt om die grootste wonderwerk van jou lewe te beleef. Hou aan.” Hy het Bela nadergewink en gesê dat hy iemand spesiaal op die foon het.

Buite die telefoonhokkie moes Marcel hard sluk aan die knop in sy keel terwyl hy staan en kyk hoe Bela, deur sy trane en totaal oorweldig skree: “Marya! Marya! Marya! Dit is jy!”

In Jeremia 32:27 sê God: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?”

Sommige mense sal daardie middag se gebeure aan toeval toeskryf. Tog, was dit toevallig dat Marcel juis daardie middag sy siek vriend gaan besoek het? Was dit toeval dat die man wat langs Bela gesit het afgeklim het toe Marcel opklim? Was dit toeval dat Marcel vir Marya ’n paar dae vantevore ontmoet het? Toeval … of net nog ’n geleentheid waar God se onsigbare Hand dinge in plek geskuif het sodat ’n wonderwerk beleef kon word? Hy doen dit stééds vandag. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U soms in die mees skouspelagtige maniere U grootheid aan ons kom wys. Help my om U aan te hou vertrou vir ’n deurbraak as dit ook onmoontlik vir my lyk of voel. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen