My enigste begeerte, al wat ek wens … - 29 Oktober 2020

Deur Ewald Schmidt

Dit bly seker die diepste vraag van ons bestaan: wat is jou grootste behoefte in die lewe? Wat wil jy die heel graagste bereik met die tyd wat jou gegun word? Paulus het hierdie gedeelte begin deur alles te noem wat voorheen vir hom belangrik was. Sy volk, sy kultuur, sy opleiding en prestasies. En die weergawe van geloof wat hy eers probeer het, om deur wetsonderhouding vrede met God te probeer vind. Nie een van hierdie dinge het hom gebring by die antwoord waarom hy bestaan nie.

Alles het verander dié dag toe hy die lewende Here Jesus ontmoet het op die pad na Damaskus. Tydens Jesus se aardse bediening was Paulus sy vyand, hy het probeer om die vroeë kerk uit te roei. Paulus het geweet dat Jesus gekruisig is, die hele Israel, en veral die Fariseërs sou deeglik bewus wees daarvan. Om Jesus na sy dood as lewende Here persoonlik te ontmoet, het Paulus se ou fondamente onder hom uitgeruk. Dit het sy hele lewe verander. Daarom kan hy sê: Al wat ek wens, is om Christus te ken. Dit is die belangrikste ding in my bestaan: om in ‘n verhouding met die lewende Here te lewe. Hy gee my hoop, die krag wat Hom uit die dood opgewek het, werk ook in my. EK wil die pad saam met Hom stap, al vra dit lyding in hierdie wêreld.

Paulus het ontdek Jesus het hom vrygemaak. Jesus het hom syne gemaak. Daarom wil hy word wat hy in Christus reeds is – God se kind. Hy span hom in om dit te bereik, om te verander, en nuut te word. Nie om gered te word nie, uit dankbaarheid vir die redding wat hy by Jesus gekry het. Dit bly die heel belangrikste fondament in elke gelowige se lewe: om Jesus te ken, en Hom te volg.

Gebed: Here Jesus, mag elke mens U as die lewende Here ontmoet. Mag ons beleef dat die Gees wat U uit die dood opgewek het, ook in ons werk om aan ons die ware lewe te bied. Mag ons soos Paulus uitkom by ons diepste begeerte, dat ons grootste wens in die lewe mag wees om U te ken, U te volg en U te dien. Daarin lê die ware lewe. Amen