'n Oes van hoop - 1 September 2020

Deur Xanthe Hancox

Psalm 126 is so vol hoop en vreugde (en kort genoeg!) dat ek vanoggend die volledige Psalm hier insluit. Die psalm is ‘n lied wat terugkyk na die tyd toe die ballinge vanuit hulle lang ballingskap in Babel na Jerusalem teruggekeer het. Hulle het so baie gely en nou bevind hulle hulleself skielik terug in hulle eie land, terug in Jerusalem, terug in die geliefde stad van God.

Die eerste strofe moedig ons aan om ons te verwonder oor hoe God ons in die verlede gehelp het, en die tweede moedig ons aan om Hom te vertrou om dit alles weer te doen.

Alhoewel die Israeliete weer vry en terug in Jerusalem was, was daar nog baie werk om te doen. Hulle moes die tempel en die mure van die stad herbou. Hulle moes innerlike moedeloosheid beveg, asook die teëstand van mense. God het hulle in die verlede op ‘n wonderbaarlike manier bevry en nou was dit nodig dat hulle Hom vertrou om dit weer te doen.

God se bevryding kom soms vinnig en onverwags, baie soos die reën wat droeë spruite in waterstrome verander, met gras en blomme wat dan feitlik oornag hulle verskyning maak. Maar dikwels is die Here se manier van werk baie stadiger – dit is soos om te saai en dan later te oes.

Nadat daar soms met trane gesaai word, kan omstandighede ‘n boer selfs laat hoop opgee om enigsins ‘n oes van die land te haal, om nie eens van ‘n vreugdevolle oes te praat nie. Maar in die metafoor in hierdie psalm, word die oes met ‘n gejuig ingebring, die gerwe word juigend gedra.

Ons hoop in Jesus Christus is dat God getrou aan sy belofte sy kinders sal red. Ons hoop op verlossing deur God se liefde in Jesus Christus sal ons trane in ‘n lied van blydskap verander. Ons “sal die oes met gejuig inbring”.

Gebed: Here van beloftes, dankie vir al die kere wat U my in die verlede gehelp het. Vergewe my die kere wat ek ongeduldig was en onmiddellik ‘n antwoord wou hê. Leer my om U elke dag te vertrou. Amen