Bible Society of South Africa

Vry om te dien – 28 April 2021

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

1 JOHANNES 3

16Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. 17Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?

'n Goeie gewete voor God

18Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.

1 JOHANNES 3:16-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

As ‘n mens vandag se gedeelte in net ‘n paar woorde moet opsom, sal die ou Engelse gesegde, “Put your money where your mouth is” nogal werk. As ons in iets glo of weet dat iets verkeerd is, moet ons eerder as om te kla, daadwerklik die saak ondersteun of die probleem oplos.

Onthou, liefhê is ‘n werkwoord.

Dit is presies wat die apostel Johannes ons oor die liefde leer. Liefde is nie net ‘n woord wat gebruik word om iemand te bemoedig of te ondersteun nie. Ons dade moet van ware liefde getuig.

Liefde sien die pyn en gebrokenheid in ons wêreld en doen iets daaromtrent. Liefde gaan en dien ander mense.

Aan die kruis het Jesus deur sy aksie die grootste liefde moontlik aan almal bewys. Hy het sy lewe vir ons gegee en Hy gee ook ‘n opdrag aan sy volgelinge om uit te gaan en opofferende liefde aan ander te bewys. Deur die opstanding van Jesus ontvang sy volgelinge blydskap en vryheid om in sy liefde te leef.

God se liefde vul ons met ‘n verlange na eerlikheid, integriteit, nederigheid, geregtigheid en respek vir alle mense. Jesus se opstandingskrag maak ons vry om te gaan en die laste van diegene wat ly met hulle te deel, tyd met die eensames te spandeer, en om geregtigheid te soek vir diegene wat vervolg en onderdruk word.

Wanneer jy dankbaar is vir jou vryheid in Christus wat jy deur sy opstanding ontvang het, vra Hom om jou te wys waar jy vandag diensbaar kan wees om so sy liefde aan ander te bewys.

Gebed: Here Jesus, vul ons met u liefde, geregtigheid, genade en sagmoedigheid. Gee ons oë om die wêreld te sien soos U dit sien, en gee aan ons die moed om ander te dien deur u liefde wat ons vrymaak. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS