Vader van die verbond – 3 Junie 2021
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
GENESIS 12
Die roeping van Abram
Abram (die vader is verhewe), of soos hy later geheet het, Abraham (waarskynlike betekenis – vader van baie) is die aartsvader van drie van die groot godsdienste van die wêreld, naamlik die van die Jode, Christene en Islam. Abram en sy familie woon in Ur van die Chaldeërs. Laasgenoemde was woestyn stamme wat Babilon binnegedring en dit mettertyd oorheers het. Nebukadnesar was byvoorbeeld ’n Chaldeër.
Abram vertrek saam met sy familie uit Ur tot in Haran. In ons teks lyk dit asof hy in Haran deur God geroep is, maar volgens Genesis 15 en Handelinge 7 lyk dit asof God hom reeds in Ur geroep het. God roep hom weg uit sy bekende wêreld na Kanaän. Die naam kom heel waarskynlik vanaf ’n kleinseun van Noag met die naam Kanaän en kan letterlik beteken die rooi-pers kleursel waarmee wol gekleur is. Hier wil God van hom die vader maak van ’n Verbondsvolk wat die enigste ware God sou aanbid. Abram huiwer nie ’n oomblik nie. Hy vertrek met sy gesin dadelik na Kanaän om die opdrag van God uit te voer.
Reeds vyf-en-sewentig jaar oud, maar hy vertrou op God om al die beloftes aan hom waar te maak. Sy lewe sou nog ’n hele paar draaie maak deur Egipte, ’n ontmoeting met Melgisedek, sy rol as voorbidder van Sodom en die geboorte van Ismael, voordat al die beloftes vervul is.
God se pad met ’n mens bly verstommend. Ur was die sentrum vir die aanbidding van die maangod. Ons weet nie hoe Abram en sy familie in dié afgodstad wel in die ware God begin glo het nie. Wat ons wel weet is dat God hom wegroep, want uit sy nageslag moes die Messias gebore word.
God loop soms met ons ook ’n lang pad voordat Hy uiteindelik met ons die doel bereik waarvoor ons bestem is. Al word ons nie almal aartsvaders nie wil Hy ons ook vir iets spesifiek in sy koninkryk gebruik. Daarop kan ons reken.
Gebed: Al weet ek nie elke dag waarvoor U my nog wil gebruik nie, wil ek U dank dat U my uit die land van die sonde geroep het tot ’n nuwe lewe. Amen