Bible Society of South Africa

Op soek na Jesus – 4 Maart 2021

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

PREDIKER 1

2Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.

3Wat kry die mens vir sy geswoeg,

sy geswoeg in hierdie wêreld?

4Geslagte kom en geslagte gaan,

maar die wêreld bly altyd dieselfde.

PREDIKER 1:2-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Salomo was ‘n koning wat ‘n mens laat dink aan baie van die beroemdes in die hoofopskrifte van vandag en hulle probleme. Sy waarneming van die ritme van die lewe was: “alles bly aan die worstel–’n mens kan dit onder woorde nie bring nie;” (Prediker 1:8) “met baie wysheid kom baie verdriet, ..” (Prediker 1:18) en “kyk, dit alles is sinloos, ‘n gejaag na wind.” (Prediker 1:14) “So het ek baie belangriker geword as enigiemand wat voor my in Jerusalem was; boonop het ek my wysheid steeds behou. Wat my oë ook al begeer het, het ek hulle nie ontsê nie. Ek het my hart nie weerhou van enige plesier nie.” (Prediker 2:9-10)

Sy beroemde wysheid, rykdom en mag het blykbaar nie vir hom vervulling gebring nie, en ook nie die groot eer om gekies te word om die tempel te bou nie, alhoewel hy dit met groot verwondering en entoesiasme aangepak het. Ten spyte van alles wat hy in sy lewe gehad het om hom besig te hou (Lees 1 Konings 4:20-5:18) lyk dit asof niks hom waarlik bevredig het nie. Hy het steeds na iets gesoek.

As Salomo vandag geleef het in ‘n wêreld wat verskriklik deur Covid ontwrig word, sou hy so ontevrede gevoel het oor die sinloosheid van die lewe, of sou hy, soos sommige mense vandag, ‘n nuwe waardering ontdek het dat hy elke dag kon wakker word, dankbaar vir sy werk en vir klein dingetjies om te geniet? Of sou hy steeds verveeld gewees het en ‘n sin van hopeloosheid ervaar het?

Sou Salomo die lewe anders ervaar het, as dit vir hom moontlik was om Jesus op te soek soos Nikodemus gedoen het? Nikodemus, ‘n geleerde Fariseër, het ook na antwoorde gesoek.

In gesprek met Nikodemus oor die koninkryk van God, verwys Jesus ook, soos Salomo, na die wind, maar sy verwysing hierna gee ‘n positiewe perspektief van hoe die Gees as ‘n bemagtigende krag werk, en nie as iets wat frustreer omdat jy dit nooit kan vang al probeer jy hoe hard nie. “Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Johannes 3:8)

Sy gesprek met Jesus het Nikodemus gehelp om te verstaan hoe wedergeboorte verandering en vryheid in die Gees bring sodat hy, ongeag wie hy was, voortaan met integriteit en nuwe waardering binne die grense wat God daar stel, sou kon leef.

Nikodemus het ‘n beginselvaste Fariseër geword wat Jesus by sy mede-Fariseërs verdedig het. (Lees Johannes 7:50-51) en later sy liefde vir Jesus bewys het deur saam met Josef van Arimatea Jesus se liggaam te salf en in die graf weg te lê. (Lees Johannes 19:39-42). Sy soektog is volkome vervul. Sou Salomo dinge anders ervaar het as hy dieselfde geleentheid gehad het?

Ons tevredenheid in die lewe word bepaal deur waarop ons ons harte fokus: fokus ons op ons omstandighede of op die Een wat ons omstandighede kan verander?

Gebed: Here Jesus, U alleen gee betekenis aan wie ons is en wat ons het. Slegs deur U te vind, kan ons blydskap en vervulling in ons lewens ervaar. Help my om te leef met ‘n hart wat op U gefokus is en altyd bo my omstandighede uit te styg. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS