Bible Society of South Africa

God sien ons wanneer niemand ons sien nie – 5 November 2021

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

PSALMS 139

17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God,

hoe magtig hulle almal!

18As ek hulle sou wou opnoem –

hulle is meer as wat daar sand is,

en as ek daarmee klaar is,

sou ek nog steeds met U te doen hê.

PSALMS 139:17-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 49:16-1AFR83Maak oop in die Bybelleser

104 jaar. Dít is hoe lank adellike juwele wat tydens die rewolusie in 1917 uit Rusland gesmokkel is, in bewaring gehou is. Die diamante word volgende week in Genève opgeveil. Die pienk diamantring van 25.62 karaat is die ster van die versameling en kan vir tussen R60 en R90 miljoen verkoop word.

Soms voel ons geïsoleerd soos die diamante. Rondom ons skarrel mense, maar dit voel asof niemand van ons bestaan weet nie. Dalk is ons ook in bewaring? Dalk is God besig om ons te bewaar vir die regte oomblik wat Hy ons voor wil gebruik?

Dawid was eens ’n skaapwagter in die veld. Josef was ’n gevange in die tronk. Ester was ’n weeskind. Al drie hierdie mense het nodig gehad om in die “stil tyd” uit te vind wie hulle is en die karaktertoetse te slaag sodat hulle die druk kon dra om teen ’n reus te gaan veg, om ’n land vir ’n hongersnood voor te berei of om ’n lewe te waag om vir die oorlewing van haar volk te gaan pleit.

In Psalm 139 lees ons: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.” In Jesaja 49:16 lees ons: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer. . .”

God weet van ons. Hy ken ons toekoms. Hy bepaal ons lewensdae. En net soos die diamante se waarde in isolasie gegroei het, groei ons waarde en karakter ook! Hy bewaar en beskerm ons. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U van my weet – selfs al voel ek alleen en geïsoleerd! Help my om getrou te bly wetende dat U in beheer van my lewe bly! Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS