Bible Society of South Africa

Daar is ‘n uitweg uit jou storm – 10 Februarie 2021

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

MATTEUS 11

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

MATTEUS 11:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 40

2Ek het gesmag na die hulp van die Here.

Hy het na my toe afgebuig

en my hulpgeroep gehoor.

3Hy het my uitgetrek uit die put van die dood,

uit die slymerige modder,

my op 'n rots laat staan

en my weer op vaste grond laat loop.

PSALMS 40:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 43

18Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink

en by die verlede stilstaan nie.

19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,

dit staan op die punt om te gebeur,

julle kan dit al sien kom;

Ek maak in die woestyn 'n pad,

Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

JESAJA 43:18-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Oor die naweek het ’n sneeustorm in Duitsland gesorg vir konsternasie. Die storm was só erg en onverwags dat die trein letterlik in sy spore gevries het en passasiers met lere uit die trein gered moes word.

Soms gebeur dit in ons lewens dat ’n storm van watter aard ook al ons in ons spore vries. ’n Storm kan kom in die vorm van aflegging by die werk, die afsterwe van ’n geliefde, ’n egskeidingsbrief, skokkende nuus oor ’n kind of selfs ’n diagnose oor jou gesondheid. Hierdie tipe ding stuit ons in ons spore terwyl ons, kompleet soos die Duitsers in die trein, naarstigtelik soek na maniere om die storm te oorleef.

Vir ons as gelowiges is ’n krisis nie die einde nie. Dit is bloot ’n geleentheid waarin ons God op ’n nuwe manier in ons lewens kan beleef. Luister maar na Jesus se woorde in Matteus 11:28: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” In Psalm 40:2-3 skryf die Psalmdigter: “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ‘n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop.” En in Jesaja 43:18-19 praat God self: “. . . moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”

’n Krisis is ’n geleentheid om ons oë opnuut na God te draai, om ons hart voor Hom uit te stort en om op Hom te wag om ons deur sy Heilige Gees te lei. Dit is ’n geleentheid waar ons Hom in aksie kan beleef. God is steeds in staat om ons hart met hoop te vul en om ons geleenthede in die krisis te laat raaksien. Net soos die mense op die trein in Duitsland met lere na veiligheid kon vlug, kan God ons uit die storm trek en ons weer op vaste veilige grond laat loop. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U my vashou in U hande. Lei my en bewaar my in elke seisoen van my lewe. Hou my naby aan U, maar maak my ook bewus van U teenwoordigheid in my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS