Ons Here en ons God – 29 September 2020
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
JOHANNES 20
Die Griekse woord Kurios wat Thomas hier gebruik wanneer hy sê: ”My Here” se betekenis hang af van die konteks waarin dit gebruik word. Dit kan gewoon “meneer” wees soos wat die Samaritaanse vrou by die put vir Jesus aanspreek of dit kan soos in die ou Griekse kultuur gebruik word om die hoof van die huisgesin aan te dui. Verder kan dit ‘n eienaar of besitter beteken en diensknegte en slawe het hulle meesters as kurios aangespreek.
Die belangrikste gebruik vir Kurios in die Nuwe Testament is wanneer dit as gelykstaande aan die Ou Testament se Jahwe gebruik word om Jesus aan te dui as God self. Johannes gebruik in sy beskrywing van die evangelie die woord kurios grootliks in die alledaagse vorm van “meneer”. Na die opstanding van Christus uit die dood verander dit. Nou gebruik hy dit om na Jesus te verwys as God self soos wat ons sien uit Tomas se ontmoeting met die opgestane Here.
Tomas was nie by toe Jesus die eerste keer aan die dissipels verskyn het nie en wanneer hulle hom dit vertel, klink dit so asof hy wil sê: vertel my ’n ander storie. Hulle storie klink so ongeloofbaar dat Tomas eers self fisies aan Jesus wil raak, eers die merke in sy hande wil sien en sy vinger in die wonde wil steek, anders sê hy: “sal ek nooit glo nie”.
Wanneer die dissipels ’n paar dae later weer bymekaar is, word hy gekonfronteer met die lewende Jesus. Hy is so oorweldig dat ons nêrens lees dat hy wel op Jesus se uitnodiging om sy vinger in die wonde te steek, reageer nie. Hy roep net met ontsag: “My Here en my God”. Jesus se opstanding uit die dood laat Tomas besef hierdie Jesus wat hulle soms net “meneer” genoem het, is eintlik God self.
Vir my is Jesus ook die hoof van die huisgesin, die Kerk. Hy is ook my meester en eienaar, maar bo alles is hy die Here God.
Gebed: Baie dankie dat u vir my Kurios in al sy betekenisse wil wees. Meester van my lewe, eienaar van my hele wese, maar boweal ook my Here en my God. Amen