God is stééds God in sy Woord – 18 November 2020
Deur Benescke Janse van Rensburg
Bybelteks(te)
PSALMS 119
Hoe eet ‘n mens sjokolade? Volgens Britse sjokoladekenner, Jen Earle moet sjokolade gesuig en nie gekou word nie. Só sal jy aan die begin, middel en einde verskillende smake geniet.
Die bestudering van die Woord van God kan met die sjokolade eet raad vergelyk word. In stede daarvan om dit te sien as ‘n “taak” wat afgehandel moet word, is dit nodig om dit wat jy lees te oordink (amper soos om die sjokolade te suig). Doen ons dít sal ons dieselfde gedeelte kan lees, maar verskillende “smake” in verskillende seisoene van ons lewens beleef.
Hoekom? Want die Woord van God is lewend en kragtig (Hebreërs 4:12). Die Psalmdigter beskryf dit in Psalm 119:103 só: “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond.” Dit is die swaard waarmee ons die vyand beveg (Efesiërs 6:17).
Kom ons tel die Woord van God op. Kom ons oordink dit. Kom ons beleef hoe God vandag nog met ons praat. Hy is stééds God. Sterkte.
Gebed: Vader God, baie dankie vir u Woord. Breek dit vir my oop deur u Heilige Gees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen