Dag 19: God is ons ROTS en REDDER – 5 Maart 2020
Deur Benescke Janse van Rensburg
Bybelteks(te)
PSALMS 18
PSALMS 62
EFESIËRS 3
Wanneer God al is wat ons het om aan vas te hou in stormagtige tye, ontdek ons meestal iets uniek van God se karakter en sy vermoë om ons gebede te beantwoord. Hier is Eugene Lubbe se getuienis:
Eugene: “Dit was ’n baie donker dag toe ek my voertuig van die paneelkloppers terug ontvang en besef dat die herstelwerk nie korrek gedoen is nie.
Weke vantevore was ek in ’n motorongeluk. Die versekering wou nie uitbetaal nie aangesien dit in die fynskrif van die kontrak noem dat hulle slegs uitbetaal indien die voertuig afgeskryf is. Ek moes noodgedwonge ’n lening aangaan om die voertuig te herstel aangesien my werk van so aard is dat ek daagliks ’n voertuig benodig.
Met die besef dat die herstelwerk foutief is, het ek die voertuig teruggestuur net om te hoor dat dit my ’n verdere R8250 sou kos. Al wat ek vir die paneelkloppers kon sê was om die motor te herstel en dat ek dit aan die einde van die maand sou kom betaal. Ek het nie geweet waar die geld hiervoor vandaan sou kom nie.
Ek en my verloofde, Ilse was teen die grond. Ons was net besig om te spaar vir ons troue en sou noodgedwonge van ons spaargeld moes gebruik om vir die voertuig te betaal. Ons het gebid en God vir ’n wonderwerk gevra.
Aan die einde van die maand het ek my salarisstrokie ontvang. Ek het die oggend voor my lessenaar gaan sit en die koevert oopgemaak. Tot my verbasing het ek gesien dat die maatskappy vir wie ons werk van daardie maand af vir die eerste keer besluit het om oortyd te betaal. Die bedrag van my oortyd was presies R8250! Ek kon net huil omdat ek geweet het dat dit God was wat voorsien het – tot op die rand en sent.
God se voorsiening het nie daar gestop nie. Uit vreemde oorde het ons geld ontvang sodat ons, ons troue kontant kon betaal. Net so ook met die koop van ons eerste huis. Al het dit onmoontlik gelyk, het God vir ons ’n weg gemaak. Hy stel ons nooit teleur nie!”
Eugene is reg. God is ons ROTS en REDDER. In Psalm 18:3 lees ons: “Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.” Ook in Psalm 62:2 staan geskryf: “Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan.” Dan in Efesiërs 3:20 lees ons: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe. . .”
Mag ons vandag rus in die wete dat God regeer. Hy is ons skuilplek in die middel van ’n storm en Hy voorsien steeds in ons behoeftes. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my ROTS en REDDER is. Help my asseblief (noem die situasie). Versterk my geloof en help my om my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen