Bible Society of South Africa
Neville Turley

Tyd is kosbaar – Dag 20

Van tyd tot ewigheid

Bybelteks(te)

EFESIËRS 1

9Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.

EFESIËRS 1:9-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

“So baie om te doen, so min tyd.” Voel jy soms dat hierdie gesegde op jou van toepassing is? Indien wel, is jy nie alleen nie. Baie mense sal met jou saamstem.

Hoe meer elektroniese hulpmiddels ons het om ons werklas te verlig, hoe besiger raak ons. En tog wonder ek of ons in die toekoms gaan terugkyk op die dinge waarmee ons nou besig is en gaan sê dat ons ons tyd beter kon benut het. Dit is gevaarlik dat ons so vasgevang raak in ons daaglikse roetine dat ons die groter prentjie uit die oog verloor.

Die apostel Paulus gee ons ʼn blik op God se “geheime plan” vir sy uitverkorenes wat tans in tyd vasgevang is, maar wat Hy vir die ewigheid bestem het.

God se doel en plan – nog voordat Hy die wêreld gemaak het – was dat ons deur Jesus Christus sy kinders moet word. Deur sy Seun ontvang ons alle seëninge op hemel en op aarde.

God se plan sal voltooi word wanneer Hy op die bestemde tyd al sy kinders bymekaarbring en onder een hoof, naamlik Christus, verenig.

Dit sluit jou ook in want – “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het …” (Efesiërs 1:13-14).

God se groot liefde verseker ons dat as ons sy Seun Jesus Christus aanneem, ons sy kinders is en ʼn integrale deel van sy volmaakte plan vorm. Hoe bevoorreg is ons nie.

Aan God al die eer, want Hy het groot dinge gedoen.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS