Bible Society of South Africa
Benescke van Rensburg

Nuwe begin – dag 10

Nuwe begin … met bonatuurlike geloof in God

Bybelteks(te)

JESAJA 49

23Konings sal jou kinders oppas,

koninginne sal hulle pleegmoeders wees.

Hulle sal diep voor jou buig

en die stof van jou skoene aflek.

Dan sal jy besef dat Ek die Here is;

wie op My vertrou, word nie teleurgestel nie.

JESAJA 49:23AFR83Maak oop in die Bybelleser

JEREMIA 32

27Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?

JEREMIA 32:27AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 19

26Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

MATTEUS 19:26AFR83Maak oop in die Bybelleser

[Agtergrond: Ek deel graag twee lesers se belewenisse wat getuig dat niks vir God onmoontlik is nie.]

Leser 1, Marinda: “Jare gelede het ek vir ʼn maatskappy gewerk wat teëls verkoop. Een van ons kliënte het teëls vir sy hele huis van 100 m2 gekoop en ʼn ekstra 40 m2 bestel wat hy later sou kom haal. Ek het sy bestelling in die stelsel ingevoer.

“Toe die kliënt vier weke later terugkeer, was sy teëls egter weg. Ons bestuurder het sonder my medewete die bestelling gekanselleer en die teëls aan iemand anders verkoop. Die kliënt was briesend. Sy huis se vertrekke loop aaneen en hy kon geen ander teëls gebruik om sy huis te voltooi nie. Hy het ons twee weke gegee om teëls in die hande te kry, anders sou hy regstappe teen ons neem.

“Om sake te vererger het geen verskaffers in Suid-Afrika of oorsee enige voorraad gehad nie. In my desperaatheid het ek voor God gekniel en Hom gevra om ʼn deurbraak te bewerkstellig.

“ʼn Week later bel ʼn verskaffer ons met die nuus dat ʼn bouer 50 m2 van daardie spesifieke teëls waarna ons soek, teruggebring het. Sy kliënt het skielik op ʼn ander tipe teël besluit. God het bonatuurlik ingegryp en ʼn deurbraak bewerkstellig. Alle eer kom Hom toe!”

Leser 2, Amanda: “Toe ek een middag voor die huis stop en my Skotse terrier, Vicky, nie saam met my Duitse herdershond na die hek aangedraf kom nie, het ek onmiddellik geweet daar is fout. Ek woon alleen en my honde is vir my soos kinders. Ek het dadelik na haar begin soek. Een van ons bure het gesê dat hy haar vyf minute vroeër agter ʼn fietsryer in die straat sien afhardloop het.

“Deur my trane het ek gebid terwyl ons deur die buurt se strate stap en almal vra of hulle haar gesien het. Sy was egter skoonveld. Daardie aand voordat ek gaan slaap, het ek die woorde in Jesaja 49:23 gelees: ‘Wie op My vertrou, word nie teleurgestel nie.’

“Die volgende oggend by die werk het ek met dikgehuilde oë ʼn kollega raakgeloop wat my vroeër daardie week gevra het waar ek my Skotse terrier gekry het, aangesien vriende van haar ook een wil koop. Ek vertel haar toe dat Vicky weg is. My kollega het my verbaas vertel dat sy die vorige aand by die einste vriende gaan eet het. Hulle woon in dieselfde woonbuurt as ek. Hulle het haar vertel van ʼn Skottie wat vroeër die dag in die straat rondgehardloop het. Ons het dadelik gebel en uitgevind dat mense twee huise van haar vriende die Skottie ingeneem het. Ek en my kollega het dadelik in die motor gespring en na die huis gery, en daar het ons vir Vicky gekry – springlewendig en gesond! Ek prys die Here vir sy bonatuurlike leiding in die saak.”

In Jeremia 32:27 sê God: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” En in Matteus 19:26 lees ons: “Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

Wat voel vandag vir jou soos ʼn berg wat in jou pad lê? Gaan jy vir God vra om ook vir jou ʼn deurbraak te bewerkstellig? Onthou, wie op Hom vertrou, word nooit teleurgestel nie. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS