Bible Society of South Africa
Benescke van Rensburg

Nuwe begin – dag 1

Nuwe begin … vir ʼn nuwe jaar

Bybelteks(te)

FILIPPENSE 3

13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

FILIPPENSE 3:13-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit was laatmiddag toe die boer en sy vrou op die grondpad met hulle bakkie verby die man met die groot rugsak op sy rug ry. Die boer het onmiddellik gestop om die man ʼn rygeleentheid aan te bied. Dié het dit met ʼn breë glimlag van verligting aanvaar en op die bakkie se bak geklim voordat hulle vertrek het.

ʼn Paar minute later het die boer in sy truspieëltjie gekyk om seker te maak dat alles nog in orde is met sy passasier. Verbaas het die boer gesien dat die man steeds met die swaar rugsak op sy rug sit. Hy het gestop en vir die man gevra hoekom hy nie die swaar rugsak van sy rug aftel nie. Dié het geantwoord: “Meneer, u doen my reeds so ʼn groot guns om my op te laai. Ek kan nie verwag dat u bakkie nog hierdie ekstra gewig ook moet dra nie!”

Watter soort jaar was die afgelope een vir jou? Was dit ʼn jaar gevul met hoogtepunte (ʼn verlowing, ʼn troue, ʼn nuwe baba in die familie of dalk ʼn prys wat jy vir ʼn oorsese vakansie gewen het)? Of was dit ʼn jaar wat jy eerder so gou moontlik wil vergeet (omdat jy ʼn geliefde aan die dood moes afstaan, omdat jy deur ʼn egskeiding gegaan het, omdat jy jou besigheid se deure moes sluit of dalk omdat jy die afgelope Kerstyd alleen moes spandeer)?

Soms word ons soos die passasier op die boer se bakkie. Hoewel Jesus reeds vir ons aan die kruis gesterf het om ons hartseer, teleurstelling, seer en sonde weg te neem en aan ons ʼn oorvloedige lewe te gee (Johannes 10:10), kies ons om dit soos die groot, swaar rugsak saam met ons te dra.

Luister egter na die woorde in Filippense 3:13-14: “… een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

Wat voel vandag vir jou soos ʼn groot, swaar rugsak op jou rug? Waarom kies jy nie om dit los te maak en af te tel nie? Wat verby is, is verby. Kom ons strek ons uit na wat God vir ons in die komende jaar beplan. Wie weet, dalk is dit nog jou beste jaar sover! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS