Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 89

Lukas 19–24

Bybelteks(te)

Jesus en Saggeus

1Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2Daar was 'n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, 'n ryk man. 3Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”

6Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.

7Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis!”

8Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”

9Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham. 10Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

Die gelykenis van die goue muntstukke

(Matt. 25:14-30)

11Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog 'n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom. 12Hy het gesê: “'n Man van adellike afkoms het na 'n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom. 13Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.’

14“Sy landgenote het hom egter gehaat en 'n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.’ Maar hy het tog die koningskap ontvang.

15“Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het. 16Die eerste het vorentoe gekom en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het tien muntstukke opgelewer.’ 17Daarop antwoord hy: ‘Mooi so, jy is 'n goeie slaaf. Omdat jy in 'n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.’

18“Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’ 19Aan hierdie een sê hy: ‘En jy kry die bestuur oor vyf stede.’

20“Nog 'n ander het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in 'n doek gebêre. 21Ek was bang vir u, want u is 'n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.’ 22Toe sê hy vir hom: ‘Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel. Jy is 'n slegte slaaf! As jy geweet het ek is 'n harde man wat opeis wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie, 23waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het.’ 24Daarop sê hy vir dié wat daar staan: ‘Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.’

25“Hulle sê vir hom: ‘Meneer, hy het dan al tien muntstukke.’ Maar hy antwoord: 26Ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 27En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood!”

Die intog van Jesus in Jerusalem

(Matt. 21:1-11; Mark. 11:1-11; Joh. 12:12-19)

28Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe. 29Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels vooruit met die opdrag: 30“Gaan na die dorpie toe daar reg voor julle. Net soos julle inkom, sal julle daar 'n jong donkie kry wat vasgemaak staan. Geen mens het nog ooit op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. 31En as iemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle antwoord: Die Here het hom nodig.”

32Die twee wat gestuur is, gaan toe en kry alles net soos Hy vir hulle gesê het. 33Terwyl hulle die donkie losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?”

34Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.”

35Toe bring hulle die donkie na Jesus toe. Daarna gooi hulle van hulle klere op sy rug en help Jesus opklim. 36Terwyl Hy aanry, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi.

37Toe Hy naby die stad kom, teen die afdraand van die Olyfberg, het die hele skare juigende volgelinge God uit volle bors begin prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het. 38Hulle het gesing:

“Loof die Koning,

Hy wat in die Naam van die Here kom!

Vrede in die hemel

en eer aan God in die hoogste hemel!”

39'n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: “Meneer, maak stil u volgelinge!”

40Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”

41Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil 42en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. 43Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. 44Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.”

Die reiniging van die tempel

(Matt. 21:12-17; Mark. 11:15-19; Joh. 2:13-22)

45Jesus het na die tempel toe gegaan en die handelaars begin uitjaag. 46Hy het vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed wees,’ maar julle het dit 'n rowersnes gemaak.”

47Hy was elke dag in die tempel besig om die mense te leer. Intussen het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en ook die leiers van die volk, 'n plan gesoek om Hom dood te maak. 48Hulle kon egter niks vind wat uitvoerbaar was nie, omdat die hele volk gretig na Hom geluister het.

Die vraag oor Jesus se gesag

(Matt. 21:23-27; Mark. 11:27-33)

1Op een van daardie dae, toe Jesus by die tempel besig was om die volk te leer en aan hulle die evangelie te verkondig, het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes saam met die familiehoofde nader gestaan 2en Hom gevra: “Sê vir ons, met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie is dit wat u hierdie gesag gegee het?”

3Hy antwoord hulle: “Ek gaan julle ook iets vra, en julle moet My dan sê: 4Die doop van Johannes – kom dit van God of van mense af?”

5Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 6En as ons sê: ‘Van mense af,’ sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is.”

7Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie.

8Daarop sê Jesus vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

Die gelykenis van die boere en die wingerd

(Matt. 21:33-46; Mark. 12:1-12)

9Verder het Jesus aan die volk hierdie gelykenis vertel: “Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant en dit aan boere verhuur het. Daarna was hy 'n hele ruk weg van die huis af. 10Toe dit tyd was daarvoor, stuur hy 'n slaaf na die boere toe om sy deel van die wingerd se opbrengs te gaan haal. Maar die boere het die slaaf geslaan en met leë hande weggejaag. 11Die eienaar het weer geprobeer en 'n ander slaaf gestuur. Maar hulle het hierdie een ook geslaan en uitgeskel en met leë hande weggejaag. 12Die eienaar het nog 'n keer geprobeer en 'n derde slaaf gestuur. Hulle het hom geslaan dat die bloed loop, en hom uit die wingerd uitgegooi.

13“Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat moet ek nou doen? Ek sal my geliefde seun stuur. Miskien sal hulle hom ontsien.’ 14Maar toe die boere hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons slaan hom dood, dan is die erfenis ons s'n.’ 15Toe gooi hulle hom uit die wingerd uit en slaan hom dood. Wat sal die eienaar van die wingerd dan met hulle doen? 16Hy sal kom en daardie boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee.”

Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit moenie gebeur nie!”

17Maar Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Wat beteken hierdie Skrifwoord dan:

“ ‘Die klip wat deur die bouers afgekeur is,

juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword’?

18Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word;

elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel.”

19Die skrifgeleerdes en die priesterhoofde het besef dat Jesus met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Daarom wou hulle Hom sommer daar en dan gevange neem, maar hulle was bang vir die volk.

Die vraag oor die betaal van belasting

(Matt. 22:15-22; Mark. 12:13-17)

20Hulle het hulle kans afgewag. Toe stuur hulle geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het, om Jesus op een of ander uitspraak te probeer vastrek sodat hulle Hom aan die owerheidsgesag van die goewerneur kon uitlewer. 21Hulle vra Hom toe: “Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend. 22Is dit reg dat ons aan die keiser belasting betaal, of is dit nie?”

23Maar Jesus het deur hulle slimstreek gesien en vir hulle gesê: 24“Wys vir My 'n muntstuk. Wie se kop en naam is daarop?”

Hulle antwoord: “Die keiser s'n.”

25Toe sê Hy vir hulle: “Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

26Hulle kon dit nie regkry om Hom voor die volk vas te trek op iets wat Hy gesê het nie. En verwonderd oor sy antwoord, het hulle maar stilgebly.

Die vraag oor die opstanding uit die dood

(Matt. 22:23-33; Mark. 12:18-27)

27'n Aantal Sadduseërs – dit is die mense wat ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is – kom toe nader en vra vir Jesus: 28“Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand 'n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek. 29Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe. 30Ook die tweede 31en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan. 32Daarna het die vrou ook gesterwe. 33Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

34Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, 35maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. 36Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. 37Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’. 38Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.”

39Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: “Meneer, u het goed geantwoord.”

40Hulle het nie meer gewaag om Hom 'n enkele vraag te stel nie.

Die vraag oor die seun van Dawid

(Matt. 22:41-46; Mark. 12:35-37)

41Maar Jesus het vir hulle gevra: “Hoe kan hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is? 42Dawid sê tog self in die boek van die Psalms:

“Die Here het vir my Here gesê:

Sit aan my regterhand

43totdat Ek jou vyande

aan jou onderwerp het.

44“Dawid noem Hom dus ‘Here’; hoe kan Hy dan sy seun wees?”

Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes

(Matt. 23:1-36; Mark. 12:38-40; Luk. 11:37-54)

45Terwyl die hele volk na Jesus luister, sê Hy vir sy dissipels: 46“Pas op vir die skrifgeleerdes, wat graag met hulle deftige klere aan rondstap. Hulle hou van die begroetings op straat, die voorste banke in die sinagoges en die ereplekke by die maaltye. 47Dit is hulle wat die huise van die weduwees inpalm en vir die skyn lang gebede opsê. Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Die klein gawe van die arm weduwee

(Mark. 12:41-44)

1Jesus het rondgekyk en die rykes hulle gawes in die offergawekis sien gooi. 2Hy sien toe ook 'n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi, 3en Hy sê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. 4Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe.”

Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word

(Matt. 24:1-2; Mark. 13:1-2)

5Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus: 6“Alles wat julle sien – daar sal 'n tyd kom dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Alles sal afgebreek word.”

Die profetiese rede: rampe en vervolging

(Matt. 24:3-14; Mark. 13:3-13)

7Hulle vra Hom toe: “Here, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan plaasvind?”

8Hy antwoord: “Pas op dat julle nie mislei word nie, want baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie! 9Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie beangs raak nie, want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar dit is nog nie onmiddellik die einde nie.”

10Verder sê Hy vir hulle: “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. 11Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.

12“Maar nog voordat dit alles gebeur, sal hulle julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. 13Dit sal vir julle 'n geleentheid wees om van My te getuig. 14Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie, 15want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie. 16Julle sal selfs deur julle ouers en broers en familie en vriende verraai word, en hulle sal party van julle doodmaak. 17En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar 18daar sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie. 19Deur julle volharding moet julle julleself red.”

Die profetiese rede: die verwoesting van Jerusalem

(Matt. 24:15-21; Mark. 13:14-19)

20“Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, 22want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid.

23“Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf.

24“Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is.”

Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens

(Matt. 24:29-31; Mark. 13:24-27)

25“Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. 26Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 27En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op 'n wolk sien kom. 28As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.”

Die profetiese rede: die gelykenis van die vyeboom

(Matt. 24:32-35; Mark. 13:28-31)

29Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “Let op die vyeboom en al die ander bome. 30Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is. 31Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. 32Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur. 33Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Die profetiese rede: vermaning tot waaksaamheid

34“Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos 'n vangnet oorval nie. 35Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. 36Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”

37Bedags was Jesus in die tempel besig om die mense te leer, maar snags het Hy uitgegaan en buite op die Olyfberg vernag. 38In die môre vroeg het die hele volk dan weer in die tempel na Hom kom luister.

Jesus se dood word beplan

(Matt. 26:1-5,14-16; Mark. 14:1-2,10-11; Joh. 11:45-53)

1Die fees van die ongesuurde brood, wat pasga genoem word, was naby. 2Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes wou Jesus uit die weg ruim, maar omdat hulle bang was vir die volk, het hulle nog gesoek na 'n manier om dit te doen.

3Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar. 4Hy het toe met die priesterhoofde en die offisiere van die tempelwag gaan praat oor hoe hy Jesus in hulle hande kan laat kom. 5Hulle was bly en het ooreengekom om hom daarvoor te betaal. 6Hy het ingestem en na 'n geskikte geleentheid gesoek om Jesus te verraai waar die volk nie by is nie.

Die paasmaaltyd word gereed gemaak

(Matt. 26:17-25; Mark. 14:12-21; Joh. 13:21-30)

7Die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. 8Jesus stuur toe vir Petrus en Johannes vooruit met die opdrag: “Gaan berei die paasmaaltyd vir ons voor dat ons dit kan eet.”

9Hulle vra Hom: “Waar wil U hê moet ons dit voorberei?”

10Toe antwoord Hy hulle: “Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan, 11en sê vir die eienaar van die huis: ‘Ons Leermeester vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’ 12En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle dit voorberei.”

13Hulle het gegaan en dit gekry net soos Jesus vir hulle gesê het, en die paasmaaltyd voorberei.

Die instelling van die nagmaal

(Matt. 26:26-30; Mark. 14:22-26; 1 Kor. 11:23-25)

14Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom. 15Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. 16Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.”

17Daarna neem Hy 'n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan. 18Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.”

19Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

20Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.

21“Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel. 22Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!”

23Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen.

Die ware grootheid

(Vgl. Matt. 20:24-28; Mark. 9:30-37; 10:41-45; Joh. 13:4-5,12-17)

24Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. 25Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. 26Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. 27Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien.

28“Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het. 29Net soos my Vader 'n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek 'n koninkryk aan julle, 30sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer.”

Petrus sal Jesus verloën

(Matt. 26:31-35; Mark. 14:27-31; Joh. 13:36-38)

31“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”

33Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”

34Maar Hy antwoord: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”

Die stryd kom

35Verder het Jesus vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie en reissak en skoene, het julle iets kortgekom?”

“Nee, niks nie!” was hulle antwoord.

36Toe sê Hy vir hulle: “Maar nou, wie 'n beursie het, moet dit saamneem, en net so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf. 37Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: ‘En Hy is as misdadiger beskou,’ moet aan My bewaarheid word, want wat op My betrekking het, gaan nou in vervulling.”

38Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.”

“Ons laat dit daarby,” antwoord Hy hulle.

Jesus in Getsemane

(Matt. 26:36-46; Mark. 14:32-42)

39Jesus het die stad verlaat en volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan, en sy dissipels het Hom gevolg. 40Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid dat julle nie in versoeking kom nie.”

41Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: 42“Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!”

43'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. 44Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.

45Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid. 46Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”

Jesus word gevange geneem

(Matt. 26:47-56; Mark. 14:43-50; Joh. 18:3-11)

47Terwyl Jesus nog praat, kom 'n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. 48Maar Jesus sê vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?”

49Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?”

50Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. 51Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!”

Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees.

52Toe sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: “Trek julle met swaarde en stokke uit soos teen 'n rower? 53Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie 'n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.”

Petrus verloën Jesus

(Matt. 26:57-58,69-75; Mark. 14:53-54,66-72; Joh. 18:12-18,25-27)

54Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op 'n afstand agterna gekom. 55In die middel van die binneplaas was daar 'n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit. 56'n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: “Dié een was ook saam met daardie man.”

57Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!”

58'n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle.”

Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!”

59Na verloop van sowat 'n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook 'n Galileër!”

60Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!”

En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai. 61Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.” 62En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Jesus word bespot

(Matt. 26:67-68; Mark. 14:65)

63Die manne wat vir Jesus bewaak het, het aangehou om met Hom die spot te dryf en Hom te slaan. 64Hulle het Hom geblinddoek en gesê: “Jy is mos 'n profeet! Sê wie het jou geslaan!”

65En nog baie ander godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou.

Jesus voor die Joodse Raad

(Matt. 26:59-66; Mark. 14:55-64; Joh. 18:19-24)

66Toe dit dag word, het die Raad van die volk – die priesterhoofde en die skrifgeleerdes – vergader en Jesus voor hulle laat bring.

67Hulle sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.”

Maar Hy antwoord hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie; 68en al sou Ek vir julle 'n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie. 69Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit.”

70Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?”

Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!”

71Daarop sê hulle: “Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!”

Jesus voor Pilatus

(Matt. 27:1-2,11-14; Mark. 15:1-5; Joh. 18:28-38)

1Daarna het die hele vergadering opgestaan en Jesus na Pilatus toe gebring. 2Daar het hulle die aanklag teen Hom begin deur te sê: “Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is.”

3Pilatus vra Hom toe: “Is jy die koning van die Jode?”

Hy antwoord hom: “Dit is soos u sê.”

4Daarop sê Pilatus vir die priesterhoofde en die skare: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.”

5Maar hulle het sterker aangedring en gesê: “Die hele Joodse land deur stook hy die volk op met sy leer. Hy het van Galilea af begin en tot hier daarmee gekom.”

Jesus voor Herodes

6Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man dan 'n Galileër is. 7Nadat hy te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodes afkomstig was, het hy Hom na Herodes toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was.

8Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al 'n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. 9Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie. 10Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het Hom heftig gestaan en beskuldig. 11Herodes en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom 'n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.

12Op daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was daar kwaaivriendskap tussen hulle.

Pilatus lewer Jesus uit om gekruisig te word

(Matt. 27:15-26; Mark. 15:6-15; Joh. 18:39 – 19:16)

13Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep 14en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as 'n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie. 15Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. 16Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.”

18Maar soos een man het hulle geskreeu: “Weg met hom! 19Laat Barabbas vir ons los!”

Barabbas was in die tronk oor 'n opstand in die stad en oor moord.

20Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat, 21maar hulle het aanhoudend uitgeroep: “Kruisig, kruisig hom!”

22Die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.”

23Hulle het egter met 'n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry. 24Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word. 25Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.

Jesus word gekruisig

(Matt. 27:31-44; Mark. 15:21-32; Joh. 19:17-27)

26Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle 'n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.

27'n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. 28Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, 29want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit 'n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’

30“Dan sal hulle vir die berge sê:

“ ‘Val op ons!’

“en vir die heuwels:

“ ‘Bedek ons!’

31“As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?”

32Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.

33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Hulle het sy klere verdeel deur te loot.

35Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”

36Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied 37en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”

38Daar was ook 'n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.”

39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”

40Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

43Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Jesus sterwe

(Matt. 27:45-56; Mark. 15:33-41; Joh. 19:28-30)

44Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; 45die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. 46Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”

Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.

47Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.”

48Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. 49Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.

Jesus word begrawe

(Matt. 27:57-61; Mark. 15:42-47; Joh. 19:38-42)

50-51Daar was 'n man met die naam Josef, afkomstig van 'n Joodse dorpie Arimatea. Hy was 'n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. 52Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra. 53Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in 'n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie. 54Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek.

55Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word. 56Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak.

Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.

Jesus het opgestaan

(Matt. 28:1-10; Mark. 16:1-8; Joh. 20:1-10)

1Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. 2Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; 3en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. 4Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. 5Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was 7en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.”

8Toe het hulle sy woorde onthou 9en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel. 10Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel. 11Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.

12Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

Die Emmausgangers

13Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na 'n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. 14Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. 15Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, 16maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. 17Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”

Met somber gesigte gaan hulle staan, 18en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”

19Hy vra vir hulle: “Watter dinge?”

Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; 20en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. 21Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22En nou het 'n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle 'n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”

25Toe sê Hy vir hulle: “Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? 26Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”

27Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.

28Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. 29Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.”

Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. 30Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”

33Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, 34en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”

35Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.

Jesus verskyn aan die dissipels

(Matt. 28:16-20; Mark. 16:14-18; Joh. 20:19-23; Hand. 1:6-8)

36Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”

37Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien 'n gees. 38Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? 39Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! 'n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” 40Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

41Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?”

42Hulle gee Hom toe 'n stuk gebakte vis. 43Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.

44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’ 48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Die hemelvaart van Jesus

(Mark. 16:19-20; Hand. 1:9-11)

50Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. 53Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS