Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 175

PSALMS 64, 88, 105 & 130, ROMEINE 8, EFESIËRS 2

Bybelteks(te)

Die regverdige verbly hom in die Here

1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.

2Hoor my as ek kla, o God,

beskerm my lewe teen die bedreiging van die vyand!

3Bewaar my van die komplotte van kwaadwilliges,

van die kwaadstokery van mense wat onreg doen,

4wat met skerp tonge vir swaarde

en giftige woorde vir pyle

5uit hinderlae lostrek op 'n onskuldige mens.

Uit die bloute trek hulle selfversekerd op hom los.

6Hulle smee bose planne

en kom ooreen om strikke te stel.

Hulle dink niemand sien hulle nie.

7Hulle beplan skelmstukke en sê:

“Ons het 'n volmaakte komplot gesmee,

want wat binne in 'n mens is,

wat hy uitgedink het, is 'n geheim.”

8Dan tref God hulle met 'n pyl,

en meteens is hulle daarmee heen:

9hulle eie tonge het hulle tot 'n val gebring!

Elkeen wat dit sien, knik met voldoening die kop.

10Met groot ontsag getuig almal dan van die dade van God

omdat hulle insig gekry het in wat Hy doen.

11Laat die regverdige hom in die Here verbly

en sy toevlug by Hom soek,

laat al die opregtes Hom prys.

Laat my gebed nie tevergeefs wees nie

1'n Lied. 'n Psalm van die Koragiete. Vir die koorleier: met fluitspel. 'n Gedig van Heman die Esragiet.

2Here my God wat my altyd help,

ek roep elke dag om hulp,

elke nag bid ek tot U.

3Laat my gebed nie tevergeefs wees nie,

hoor my geroep.

4Die swaarkry het vir my te veel geword:

ek vat al aan die doderyk,

5ek staan al met die een voet in die graf,

ek het geen krag meer nie.

6Dit is asof ek al tussen die dooies is,

tussen dié wat gesneuwel het en in hulle grafte lê,

dié aan wie U nie meer dink nie

en van wie U u hand teruggetrek het.

7U het my onder in die put laat beland,

in diepe duisternis.

8U gramskap rus swaar op my,

U laat al u golwe oor my breek. Sela

9U laat my bekendes ver van my af staan

en maak my vir hulle iets afskuweliks;

ek sit vasgevang en kan nie uitkom nie.

10My oë is al dof van ellende;

die hele dag deur roep ek na U, Here,

en steek ek my hande in gebed na U uit.

11Sal U met dooies 'n wonder laat gebeur?

Kan gestorwenes opstaan en U loof? Sela

12Word daar in die graf vertel van u troue liefde?

Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel?

13Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood,

u redding in die land van vergetelheid?

14Ek roep na U om hulp, Here,

vroeg in die môre al bid ek tot U.

15Waarom verstoot U my, Here,

waarom trek U U van my af terug?

16Ek ly swaar, ek kwyn al weg van my jeug af.

Dit is 'n swaar las waarmee U my teister.

Ek weet geen raad meer nie.

17U toorn rus op my,

U tref my met skrik en vernietig my.

18Dit bedreig my heeldag soos vloedwater,

dit sak op my toe van alle kante af.

19U laat my vriende en my bure ver van my af staan,

die duisternis van die dood is my geselskap.

Die Here hou sy verbond altyd in stand

1Loof die Here! Roep Hom aan!

Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het.

2Sing liedere, sing tot sy eer,

vertel van al sy magtige dade.

3Roem sy heilige Naam,

laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees.

4Soek hulp en beskerming by die Here,

soek gedurig sy teenwoordigheid.

5Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het,

aan sy wonders, aan die reddingsdade op sy bevel,

6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,

nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het.

7Hy, die Here, is ons God;

sy reddingsdade strek oor die hele aarde.

8Hy hou sy verbond altyd in stand,

die belofte wat Hy aan duisende geslagte toegesê het,

9die verbond wat Hy met Abraham gesluit het,

sy eed aan Isak.

10Hy het dit vir Jakob bevestig as 'n vaste toesegging,

vir Israel as verbond wat altyd sal bestaan.

11Hy het gesê:

“Ek gee Kanaän vir jou

as grondgebied en eiendom.”

12Toe hulle nog maar min was,

net 'n paar mense, en vreemdelinge in die land,

13toe hulle van volk na volk geswerf het,

van die gebied van die een volk na dié van 'n ander,

14het Hy niemand toegelaat om hulle te verdruk nie,

en het Hy selfs konings ter wille van hulle gewaarsku:

15“Moenie aan my gesalfdes raak nie,

moenie my profete kwaad aandoen nie!”

16Toe Hy hongersnood oor die land gebring het

en al hulle kos laat opraak het,

17het Hy iemand voor hulle uit gestuur:

Josef is as slaaf verkoop.

18Hulle het sy voete geboei

en hom in die gevangenis gehou

19totdat sy woorde bewaarheid is,

nadat hy die toets deurstaan het

met wat die Here aan hom bekend gemaak het.

20Toe het die koning hom uit die gevangenis laat uitkom;

die heerser oor baie volke het hom vrygelaat

21en hom aangestel as hoof van die koninklike huishouding,

met gesag oor al sy besittings.

22Josef kon die amptenare van die koning na goeddunke beveel

en selfs aan hoë amptenare leiding gee.

23Israel het na Egipte toe gekom,

Jakob kon in die land van Gam gaan woon.

24Die Here het sy volk baie vrugbaar gemaak,

talryker as hulle onderdrukkers.

25Hy het die gesindheid van die Egiptenaars verander,

sodat hulle sy volk gehaat

en vyandig opgetree het teenoor sy dienaars.

26Die Here het Moses, sy dienaar, gestuur,

en vir Aäron, die man wat Hy verkies het.

27Onder die Egiptenaars het hulle die tekens van die Here gedoen,

sy wonders het hulle gedoen in die land van Gam.

28Hy het duisternis gestuur, dit donker gemaak,

maar hulle het hulle teen sy opdrag bly verset.

29Hy het hulle waters in bloed verander

en hulle visse laat vrek.

30Hulle land het gekrioel van die paddas,

selfs tot in hulle koning se slaapkamer.

31Die Here het beveel en daar het insekte gekom,

muggies oor hulle hele gebied.

32Hy het hulle reëns in hael verander

en swaarweer oor hulle land gestuur.

33Hy het hulle wingerdstokke en vyebome vernietig

en die bome in hulle gebied stukkend geslaan.

34Hy het beveel en daar het sprinkane gekom,

ontelbaar baie sprinkane.

35Hulle het al wat groen was in die Egiptenaars se land verslind

en al die gesaaides van hulle lande afgevreet.

36Al hulle oudste seuns in die land het Hy laat sterwe,

al hulle eersgeborenes.

37Toe het Hy sy volk uitgelei, belaai met silwer en goud.

In geeneen van die stamme het iemand uitgesak nie.

38Die Egiptenaars was bly dat hulle vertrek het,

want hulle was skrikbevange oor die Israeliete.

39Die Here het 'n wolk uitgesprei as beskutting oor hulle

en 'n vuur gegee om lig te maak in die nag.

40Toe hulle kos vra, het Hy kwartels laat kom

en sy volk met brood uit die hemel versadig.

41Hy het 'n rots oopgebreek en daar het water uitgestroom

wat soos 'n rivier deur die dorre gebied gevloei het.

42Ja, Hy het sy heilige belofte

aan sy dienaar Abraham gestand gedoen

43en sy volk juigend,

sy uitverkorenes jubelend laat voorttrek.

44Vir hulle het Hy

die heidene se lande gegee;

wat deur ander volke met moeite verkry is,

het hulle in besit geneem.

45Daarom moet hulle sy voorskrifte gehoorsaam

en sy wil doen.

Prys die Here!

Ek wag op die Here

1'n Pelgrimslied.

Uit die dieptes roep ek na U, Here,

2luister tog na my, Here,

hoor tog my hulpgeroep.

3As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here,

wie sou dan nog bestaan?

4Maar by U ís daar vergifnis:

daarom word U steeds gedien.

5Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom,

ek wag op die vervulling van sy woord.

6Ek wag op die Here

meer as wat die wagte op die môre wag,

wagte op die môre.

7Wag op die Here, Israel,

want by die Here is daar troue liefde,

by Hom is die verlossing seker.

8Hy alleen sal Israel verlos

van al sy sondes.

Lewe deur die Gees

1Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. 2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. 4Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. 5Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. 6Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. 7Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

12Daarom dan, broers, staan ons onder 'n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees 'n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Die heerlikheid wat kom

18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie

31Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe:

“Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig,

dat ons soos slagskape behandel word.”

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Lewe uit die dood

1Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Een nuwe mensheid

11Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. 12In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

13Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. 14Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos 'n muur skeiding gemaak het. 15Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. 16Deur sy dood aan die kruis het Hy 'n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. 17Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. 18Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

19Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS