Maak ʼn verskil – Dag 17
Maak ʼn verskil deur jouself te ken
Bybelteks(te)
1 PETRUS 1
PREDIKER 2
PREDIKER 12
PREDIKER 12
“Die Skrif sê: ‘Die mens is soos gras, en al sy prag soos ʼn veldblom; die gras verdor en die blom val af, maar die woord van die Here, dít bly vir ewig.’ ” 1 Petrus 1:24-25
Gee hierdie woorde nie ʼn werklike beeld van die lewe op aarde teenoor die die stewige fondament van die ewigheid nie?
Hierdie woorde van Jesaja verwys na ʼn diep en waardevolle skat: die woord van God. Dit alleen het blywende waarde en elkeen wat daaraan vashou sal die teenwoordigheid van die Here in hul lewens ondervind, asook sy krag, troos, leiding, wysheid en inspirasie.
Gras is baie algemeen en groei in die meeste plekke. Dit moet natgegooi en onder beheer gehou word vir die doel waarvoor dit aangeplant is. Gras kan baie mooi wees, sommige tipes is lank en welig en ander tipes is kort. ʼn Grasperk kan soms, as dit natgegooi word, ʼn welige tapyt vorm, terwyl dit soms yl kan wees. Gras kan ook vol onkruid wees wat dit baie lelik laat lyk.
Dit is ʼn goeie opsomming van die mens. Dit maak nie saak wie ons is en waar ons vandaan kom nie, ons het almal dieselfde basiese samestelling en behoeftes, maar elkeen het sy eie siel wat deur God geskep is. Liggaam, verstand, siel en gees moet in balans wees om te floreer en waarde in die lewe te vind. Vir baie mense is dit egter moeilik.
Vir Salomo was dit moeilik: Hy was ʼn koning met groot wysheid, en tog het hy, wat sy eie lewe betref, dit moeilik gevind om wys te wees en het hy die pad soms beister geraak. Hy het alles probeer in sy poging om die betekenis van die lewe te vind. In sy eie woorde erken hy: “Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie. Alles waarmee ek my besig gehou het, het my plesier verskaf. Dit was my beloning vir al my inspanning. Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ʼn gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie.” (Prediker 2:10-11)
Ten spyte van sy fabelagtige rykdom, kos en wyn, eiendom en parke, en selfs ʼn harem met 700 vroue en 300 byvroue kon niks hom tevrede stel nie. Die lewe was vir hom leeg. Hy het besef dat ongeag sy posisie van mag die dood, soos die geval was met gewone mense, ook op hom gewag het en dat alles wat hy opgebou het aan iemand anders gegee sou word. Die lewe het net nie sin gemaak nie! “Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.” (Prediker 12:8)
Later kom hy egter tot die slotsom: “Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.” (Prediker 12:13-14)